My pa het ‘n gesegde gehad: “I despair of myself.” Hy het dit speels gesê, gewoonlik effens verleë, wanneer hy homself op ‘n algemeen-menslike swakheid betrap het. Vandag is sy dogter egter behoorlik de vieste in vir haarself en totaal wanhopig oor haar sentimentaliteit en onvermoë om enigiets weg te gooi – hieroor het ek al geskryf, maar vandag is dit weer nodig om terapeuties te skryf.
Ek is besig om op te ruim en kom op ‘n plat sjokoladeboks af, wat iewers in die tagtigerjare van die vorige eeu kersie-en-brandewynsjokolades bevat het. Ai, die herinneringe wat uitpeul toe ek daardie deksel lig ‒ Pandora lyk ‘n mooi een! Ek wéét ek gaan daardie boks weer net so toemaak en bêre, as ek nie nou dadelik die herinneringe opskryf en uitskryf en die kaartjies en briewe wegmaak nie.

Hier is ‘n paar amptelike kaartjies van vooraanstaandes, swaar papier met ampswapens voorop en dun velletjies binne-in, waarop die bewoording in goue letters gedruk is: kerskaartjies, ‘n verjaarsdagkaartjie en ‘n uitnodiging na ‘n jaareindfunksie, uit die dae toe Gewese Liefling nog hard aan sy loopbaan gebou het, met my ewe entoesiasties neffens hom. Ag, dis maklik: knip die spulletjie in klein stukkies en gooi dit weg…soja.
Nog kerskaartjies…wanneer het ek opgehou om hulle te ontvang? My kinders in die VSA kry nog die mooiste kaartjies – ‘n algemene gebruik daar is ‘n gedrukte kaartjie met ‘n kleurfoto van die gesin langs hulle boodskap. Hier is ‘n sneeutoneelkerskaartjie aan GL van ‘n Amerikaanse vriend met ‘n persoonlike nota in onleesbare handskrif, asook die mooiste gedrukte boodskap: “May Christmas bring Friends to your Fireside, Peace to your Pathway, and Good Health throughout the New Year.” ‘n Boodskap van my peetmammie, my Tannie Katy met die mooi blou oë: “Mag u in hierdie rustelose, ingewikkelde wêreld geseën wees met vrede en innerlike vreugde, nie alleen met Kersfees nie, maar dwarsdeur die jaar.” My liefste tannie, ek gryp hierdie boodskap aan, ook nou – 37 jaar later – nou dat ek dit so nodig het… Nog kaartjies van bure, vriende en familie, ook aan ons kindertjies. ‘n Selfgemaakte kaartjie van Middelkind af – hy het met groot moeite die voorblad geteken en toe agtergekom dis eintlik die agterblad, waarna hy maar ‘n flouer prentjie op die voorkant geteken het. Hierdie ene gaan ek hou – hy was seker so agt jaar oud toe sy ou handjies daardie sorgvuldige deelteken op die verkeerde e gemaak het: “Gesëende Kersfees”. Nog ‘n kaartjie wat ek nie kan wegmaak nie, is die een van my dogter se graad 1-onderwyseres in die tweede helfte van die jaar (V moes van skool verwissel omdat ons destyds ses maande in die Kaap en ses maande in Pretoria gebly het). Watter wonderlike juffrou was sy tog, wat gehelp het om my dogtertjie se aanpassing in ‘n groot en vreemde skool vlot te laat verloop.
‘n Verjaarsdagkaartjie met ‘n stroperige boodskap, gebêre omdat my dogtertjie haar naam daarin probeer skryf het. ‘n Kaartjie aan Middelkind van die bure oorkant die straat ‒ as mens dit oopmaak, steek ‘n yslike groenbont padda vir jou tong uit: “Gelukkige verjaarsdag, ou malle!” ‘n Partytjie-uitnodiging, wat bondels en bondels partytjieherinneringe oproep.
Nog kaartjies: ‘n Randall Wicomb-konsert in 1985 ten bate van Kleuterskool Trekvoëltjies, dankies, afskeid, beterskap, huweliksherdenkings… Die hopie wat ek net nie kan weggooi nie, groei steeds aan.
Nou die briewe. ‘n Brief met allerhande brokkies nuus van ‘n liewe vriendin wat ek nie op fb kan opspoor nie; een brief elk van my twee skoonsussies (hulle het ek darem nog albei op WhatsApp); ‘n briefie van waardering van ‘n gesiene akademikus; die lys van afskeidsbydraes toe ek my loopbaan weggegooi het deur te bedank; briefies van my mammie; en – ‘n groot verrassing: ‘n brief aan my, toe 12 jaar oud, met my mammie se handskrif bo-aan: “F se eerste seunsbrief”. Oja, ek onthou hierdie karakter – eendag toe hy bel, was ek buite besig om paadjies vir my speelgoedkarretjies in die modder te skraap.
Sentimentele waarde is ‘n vreemde geldeenheid!
Dis nou raak gesê.
Ag my liewe Tannie Frannie … daardie is ‘n boks wat jy maar kan bere tot jy eendag na die wonderlike Hiernamaals toe gaan – dis jou sentiment. Wat dan daarna met dit gebeur, gaan nie jou probleem wees nie 😉. Ek herken daardie Kersfees kaartjies (die kers en die stal toneel) … ons het self so ‘n paar van hulle in ‘n boksie (wat ook nie tot by die drom kan kom nie) … ek stof net altyd die boksie mooi af en bere dan weer.
‘n Sielsgenoot, jy 🥰
💌
Oh Frannie. I fully understand.
It is so difficult.
You too, Granny? I had you pegged for a braver person!
Jy is tog vir my so oulik, Frannie. My ewige pragtige sentimentele vriendin. Jy mag en jy moet.💓
Op my boekrak is daar ‘n stokkie – opgetel op ‘n Mosambiekse strand…
Daardie stokkie verteenwoordig iets belangrik?
Dit verteenwoordig Frannie 🥰
Ons verstaan 😍
Kosbare begrip – dankie daarvoor.
Ek probeer so hard om op te ruim … wonder soms hoekom ek party goed gehou het. Vannoggend het ek my jongste se Graad 4 Afrikaans temas weggegooi nadat ek almal deurgekyk het om weer te sien hoe mooi sy elke prentjie ingekleur het – sy is al veertig!!!!
Hou maar daai boks, tannie Frannie, want ons almal het so ‘n boks. Kaartjies en foto’s. Ons dogter se huis het 2 weke terug afgebrand. Alles gone. Sy praat oor haar sentimentele goedjies… oor foto’s. Ek het haar troufoto’s op my rekenaar. Wonderlik. Maar as dit my huis was? In ons tyd was daar niks digitaal nie… waar kan ons ons ou boksies vol sentiment veilig bêre waar mot en roes en brand en water dit nie kan verwoes nie 🙈🤷♀️
Ai, jou arme dogter!
Daardie skoolwerkies roep mos die allerliefste skim van ‘n leerlingetjie op.
Ja, ons het almal so n boksie. En dis n heerlike ontdekking om weer fie ou briefies, kaartjies en foto’s te sien. Ek dink dis n kosbare geldeenheid, baie meer werd as Rand en sent. Ek wens ner daarwas meer plek vir alles – en meer tyd om die boksies deur te kyk en terug te dink.
Ooooo, die liewe boksies met goedjies. Ek het nog ‘n sjokolade doos wat my pa vir my gegee het toe ek matriek geslaag het. Nou moet jy weet, daardie sjokolade was BAIE duur. Ons het nie geld gehad nie maar daardie boksie gooi ek nooit as te nimmer weg nie. My skool vulpen en potlode is daarin gebêre. Mens kannie sulke goed sommer weg doen nie. Dis dan jou eie herinneringe niemand kan dit vir jou vervang nie.
Ek het nog ‘n klompie van my dogter se graad R en Graad 1 prente en boeke en rapporte. ‘n Graad R kunswerk is gelamineer en trek met my saam. Nou is die kleinkinders se skribbels teen die yskas as herinnergoed. Sentiment wat nooit weggemaak kan word nie.
Ek het ook so boksie met goetertjies wat ek ook nie kan weggooi nie!
En as mens weggegooi het, kry jy later spyt. Ja, waar is die dae van Kerskaartjies pos. Ek het pakke gekoop en vir omtrent almal kaarte gestuur. Ek het nou die dag gedink ek mis dit. Whatsapps ens. is lekker om te ontvang, maar dit is nie dieselfde nie. Slakkepos het regtig in slakkepos verander met die Poskantore se korrupsie of in spoorlose missing posstukke en nou sluit baie poskantore een na die ander. Nog ‘n era aan dit uitsterf.