Ons is ‘n groep vroue, bloggers, en tussen ons klompie het ‘n dorp ontstaan, Rebusfontein. Iewers in Suid-Afrika. Iewers in ons lieflike land.
Hierdie hoofstuk sluit by ‘n menigte voriges aan. Jy sal dalk frons, jy sal dalk wonder. Ja, Rebus bestaan. Vir ons, en dalk vir jou.
Rebus is ons wegloopplek, en soms ons wegkruipplek. Maar feit is, Rebus is ONS s’n.
As jy ooit lus is om deel te word, om deel te neem, sê net, en jou droom sal bewaarheid word.

Volg die storie deur op HIERDIE SKAKEL te kliek.

Frannie sit in haar ruimtekajuitjie, besig om verwoed lipstiffie aan te smeer, soos VirgoC haar aangeraai het. Maar verpik of sy in die GVVP (GoueVroueVuurPyl) gaan wegkruip, soos wat VirgoC óók aangeraai het! Nee, sy gaan Silver vol in die oë kyk (die man het juis sulke mooi groen oë), al is dit dan nou deur dik ruimtehelms, en probeer please explain oor daai dag in 2020 in die VSA. Maar om dit reg te kry, gaan vindingrykheid verg, want voordat sy kan probeer om Silver te bekoor, sal sy al wat ‘n Goue Vrou is, moet ontglip!

Die Goue Vroue het naamlik op die VNoodGVV (VinnigeNoodGoueVroueVergadering) wat Seegogga belê het, volstrek geweier om haar te laat gaan om Silver van aangesig tot aangesig te gaan ontmoet, soos wat die vlieënier van die tweede ruimtetuig geëis het. Frannie ril oor die doodsdreigement teenoor Toortsie, Una en Woordnoot, wat steeds op die planeet Xenia aan’t danse is onder die beskermende koepel wat hulle ruimtepakke vir hulle uitgestraal het. Sy weet haar vriendinne hier in die GVVP was getrou aan hulle leuse “Een vir almal en almal vir een” toe hulle geweier het om haar as gyselaar te oorhandig – maar is mens nou nog ‘n gyselaar as jy uit vrye wil en eie keuse so ‘n ruiltransaksie wil aangaan? En ennieway, eintlik is sy nuuskierig om Silver se storie te hoor. Hoe op aarde – agge nee, man! – hoe in die ruimte het hy bevelvoerder van ‘n spulletjie ruimtewesens geword – soos wat Trommeltjie tereg gevra het?

Wag, sy weet wat sy sal doen. Dalk werk die telepatieknoppie van die ruimtepak nie net vir die Goue Vroue nie, maar sommer in die algemeen! Dan kan sy mos met Silver self praat in plaas van daai aaklige vlieënier…  Van pure senuweeagtigheid druk sy eers weer die verskyn-en-verdwyn-knoppie op haar linkerarm en sien gefrustreerd en ietwat seesiek in die spieël hoe sy “Waar’s sy, waar’s sy, waar’s sy? Dáár’s sy!” speel. Gelukkig onthou sy nou die telepatieknoppie is die een by die oor. “Silver? Silver, kom in?” Niks nie…net die geruis van die ruimte self… Frannie onthou die raad van die Klein Prinsie, wat Aalsie aangehaal het: “Dink met die hart.” “Silver, kan jy my hoor? Dis Frannie. Ek moet met jou praat. Jy kan mos nie so mislik wees om my vriendinne se lewens te bedreig nie! Al wat jy ooit hoef te gedoen het, was om my te bel – dan het ons nou dalk ‘n roadhouse op Route 66 bedryf in plaas daarvan om hier in die ruimte rond te flenter!!” “Hmm, haha, grappie,” antwoord Silver. “Gaan jy jou oorgee, of gaan jy agter die ander Goue Vroue se ruimtepakkies wegkruip?” “Ek móét met jou praat!! Kry my hier uit die GVVP uit, ‘seblieftog, man!” “Nou goed, luister mooi. Ek het ‘n ruimte-Harley en ek gaan oor tien minute by die luik rondhang wat hulle oopmaak as iets aan die ruimtetuig verstel of reggemaak moet word – weet jy waar daardie luik is?” “Ja,” antwoord Frannie, want sy onthou toe Trommeltjie en Positief die klep gaan regmaak het. “Goed, daar behoort ‘n noodknoppie te wees wat jy sal kan druk om die luik oop te maak sonder dat jy iemand se hulp in die beheerkamer nodig het.” “Maar wat dan?” vra Frannie franties, “Hoe maak ons die luik weer toe as ek eers uit is? Ek wil nie hê my maats moet moeilikheid met hulle vuurpyl kry nie!!” “Bedaar, bedaar!” maan Silver. “Daardie knoppie laat die luik oopgaan, vir vyf sekondes oopstaan, en dan gaan dit weer outomaties toe. Jy sal moet gou spring – sien jy kans?” Frannie sluk hard. Sy dink aan Una en Toortsie en Woordnoot en hulle arme lyfies wat teen dié tyd seker oral pyn van die aanhoudende heupswaaiery om die ruimtewesens te probeer kalmeer en wat skynbaar besig is om net mooi die teenoorgestelde te bereik. “Wat dan van die drie GV’s daar op planeet Xenia?” Weer stilte…die gesuis van die ruimte…dan: “Kom ry jy nou maar eers saam met my maan toe, ons het baie goed om uit te praat!” “Ag nou maar goed dan,” willig sy nors in, kyk vir oulaas in die spieël om die mooi ruimtepakkie wat Seegogga ontwerp het reg te trek, en glip dan die gang af op pad na die luik.

Dit vat lank om by die luik uit te kom, want Frannie moet elke keer wegkruip as iemand in die gang afgestap kom: sy weet die GV’s sal haar keer as hulle haar plan agterkom. Teen die tyd wat sy die noodknoppie druk, is Silver reeds daar buite. Hoekom klop haar hart so vinnig? wonder sy en besluit dis van angs… Sy skiet in die ruimte in en beland agter op die ruimte-Harley, slaan haar arms om Silver se lyf en daar gaan die twee na die maan.

Photo by Alex Andrews on Pexels.com

Silver parkeer sy Harley (‘n verwonderlike stuk ingenieurswese, waarvan hy elke enkele stukkie meganika omslagtig aan ‘n gapende Frannie verduidelik) aan die donker kant van die maan en vertel haar hoe hy in die Overberg rondgeswerf het, totdat hy en sy Volkswagenkombi een helder maanligaand deur ‘n verblindende ligstraal tot binne in ‘n vlieënde piering opgesuig is. “Orion?” vra Frannie, “Maar hoekom?” Silver antwoord: “Die ruimtewesens van planeet Xenia is mal oor dans. Toe jy my hart daar in die VSA gebreek het, het ek besluit ek gaan na die Amerikaanse voetbaleindstryd in die Super Bowl kyk. Daar was so ‘n snaakse vent wat my uitgedaag het tot ‘n dans-tweegeveg en die Xenianers het die spektakel op YouTube te siene gekry.

Hulle het besluit hulle wil ook so goed leer dans, toe ontvoer hulle my. Nouja, jy het mos die video’s gesien wat Positief en Appeltjie gepos het – ek kan krediet vir daardie moves vat, want ek moes hulle leer, anders was hulle moorddadig. Hulle was so tevrede met my choreografie dat hulle my bevelvoerder gemaak het!”

Frannie glimlag droomverlore: “Ja, ek onthou ons tango in Pretoria…” “Wat van ‘n tango op die maan?” Silver vat haar vas en daar trek die twee op ‘n onaardse, gewiglose tango, in vervoering aan die donker kant van die maan. Skielik lui daar ‘n alarm in Silver se ruimtemondering. Die kaptein van Orion kom op die lug. “Silver, daar’s moeilikheid op Xenia. Die ruimtewesens is besig om hand-uit te ruk! Hulle is moeg gedans…”

VirgoC, sal jy asseblief verder vertel?