Die bosveldnag is koud; sy staan alleen, teenaan die sementkring waar daar ‘n helder vuur brand.

In die chalet kry Laatlam-hulle, onder wie se dak sy bly, die twee kleintjies reg om te gaan inkruip. Agter die doringtakke sien sy die ronde koperrooi maan opkom; bokant haar kop flonker die eerste sterre. Net toe sy haarself nou regtig wil begin bejammer, hoor sy voetstappe in die dik sand, sien sy die twee aangestap kom op pad na hulle eie chalet: haar seun en sý seun, haar oudste kleinkind, die een wat na Gewese Liefling vernoem is. Die gesin het gister uit Ierland in Suid-Afrika geland, moes noodgedwonge kom om paspoorte te hernu, want dit kon eenvoudig nie vanuit hulle nuwe land gedoen word nie.

Toe hulle haar sien, swenk die twee en kom staan by haar en gesels. Die koue in haar hart verdwyn – hoe wonderlik is dit om hulle in die hier en nou te kan sien!

Drie dae vantevore nooi Laatlam: “Kom saam met ons wildsplaas toe vir twee aande, daar waar pa-hulle kamp, dan kuier ma saam met ons en die Ierse kinders en pa en sy geliefde, in plaas daarvan om die naweek alleen hier te bly.” Die hele dag wroeg en pieker sy oor wat sy moet doen, besluit uiteindelik sy sal die kans waag. Sy praat ernstig met haarself, waarsku dat sy nie ‘n nat kombers mag wees nie. Sy bid: “Ag Here, help my…” Una van Blogland ondersteun en bemoedig haar en die weduwee van die predikant wat haar en GL se huwelik 15 jaar gelede tevergeefs probeer red het, laat weet: “…Wie weet, miskien kan dit vandag die afsluiting van ‘n slegte hoofstuk wees. Ek hoop van harte so…” Haar dogter uit Amerika laat weet dat dit ‘n dapper besluit is – en daardie woorde gee haar moed…

GL se lewensmaat, iemand uit hulle gemeenskaplike verlede toe hulle kinders saam klein was en wat hy lank na die huweliksverbrokkeling eers weer raakgeloop het, saam met wie hy besig is om ‘n mooi toekoms te bou, bel spesiaal om te bevestig dat die ekstra gas meer as welkom is om saam te kom. Sy word letterlik met ope arms ontvang.

Sy kry – uiteindelik! – die kans om GL saam met hulle kleinkinders te sien, hoe hy skaak met sy naamgenoot speel, grappies met die sussie maak, Gabby die wilde voëltjies laat voer en met Joshi gaan stap.

Saterdag dra sy haar geel Goue Vroue-buffie vir moed en beleef sy hoe goed GL met sy maat se kinders en kleinkinders oor die weg kom. Ten spyte van haar alleenheid voel sy deel van die geselskap en sy bewonder die gasvrou sonder voorbehoud – hierdie stylvolle, gulhartige vrou vir wie haar eie teenwoordigheid sekerlik ook nie die gemaklikste faktor kan wees nie, in wie se mooi blou oë ‘n warboel emosies swem.

Sondagoggend sit sy saam met die Ierse gesin na die bosveldvoëls en kyk: ‘n wonderlike verskeidenheid wat sommer hier vlak voor hulle die beskuitkrummels sit en oppik. Sondagaand sit sy tuis en sif deur die naweekbeelde. Die storms in haar hart het – uiteindelik, Goddank! − bedaar.