Indien jy sou wonder waar val hierdie storie nou skielik uit, gaan klik hier:

https://fresh.inlinkz.com/party/222c461d2afc4999aca03fa567cd84ea

Twee weke gelede:

Dis laatnag in Rebusfontein – drieuur voormiddag, om presies te wees. Wie sluip daar in Frannie se toring rond? Dit lyk na ‘n misdadiger – o nee wag, dis Frannie self. Maar wat op aarde het sy op haar kop en om haar nek? O, dis die buffies wat Seegogga vir haar gestuur het – sy begeer al so lank al sulke nuttige maskers, vandat sy langer as ‘n jaar gelede haar Amerikaanse skoonseun se buffie probeer leen het en die ellendige ding die heeltyd van haar neus afgeglip het. Nou het sy haar eie (sommer twee) en vannag dra sy dit om te lyk soos die rol wat sy speel: ‘n voortvlugtige dief.

Onder die wenteltrap lig Frannie die versteekte valdeur en klim die vyf trappies ondertoe. Heel agter in die een hoekie van die geheime kamertjie is daar ‘n kissie wat sy uitsleep en oopmaak. Die inhoud blink dofweg in die skemerdonker – dis sowaar diamante! Voormalige Voortvlugtige Frannie giggel tevrede – sy het nie verniet hierdie deel van haar buit so lank bewaar nie. Dis nou die regte tyd om dit te begin gebruik, met dié dat die Goue Vroue die gevaarlike speletjie van Jumanji gaan aanpak. Hulle gaan elke voordeel moontlik nodig hê en – soos ‘n Engelse skrywer tereg gesê het: “Money pads the edges of things”.

In haar kombuis begin sy broodjies bak om die diamante in te versteek. Sy gaan hulle in die wit buffie pak, wat sy soos ‘n bladsakkie gaan saamdra om dit veilig te hou – sy het reeds die onderkant toegeknoop. Dit maak ook nie saak dat sy dit op hierdie oomblik as ‘n chefhoed dra nie, want die broodjies is mos nie vir menslike verorbering bedoel nie. Haar destydse broodmandjie met die spierewit gestyselde doekie bo-oor is heeltemal te verflenterd om nou weer gebruik te word. Met waardering dink sy aan Seegogga, wat aan elkeen van die Goue Vroue dié pragtige buffies gestuur het, asook ‘n kosbare vrolike skildery van Seegogga se voetjies in rooi skoene op haar bont stoep se hangmat, met Kameel se koei Blommetjie in die verte, bont geverf soos net Seegogga dit kon doen, en daaragter Rebusf’tein se dam en die woud. Alles sorgvuldig verpak en geadresseer, met daarby nog ’n gediggie – en vir Frannie is woorde met metrum en rym ‘n verstommende kragtoer van kreatiwiteit – iets wat sy self nog nooit kon regkry nie:

Die broodjies is klaar met diamante gestop en Lelik die wilde wit kat is mooi vertel hoe sy en Danie, Una se Engelse bulhond, die orde en vrede tuis moet bewaar. Frannie swaai die wit buffie oor haar skouer en vat die pad…