Vanaand voel ek sommer vies vir myself, dat ek nooit daadwerklik plangemaak het om iewers by die see te gaan woon nie; dat ek iets wat my soveel vreugde gee, ‘n hele lewe lank vrywilliglik ontbeer het!

Wanneer ek die see hoor ruis, kom daar rustigheid in my gemoed. Ek sit graag na die golwe en kyk, veral as daar iewers ‘n rotsrif is waarteen die golwe breek en opspat – wit pluime bokant glinstergroen water.

Die kere wat ek in ‘n rivier kon swem, kan ek op my een hand tel – maar ai, dit was elke keer ‘n avontuurlike belewenis.

Plaasdamme en swembaddens het ek nog altyd behoorlik benut, ten spyte van paddaslyk en chloor.

Wanneer dit reën, dink ek aan ‘n geliefde predikant, ‘n Wes-Transvaalse boerseun, wat altyd so uit sy hart uit die Skepper vir die reën dankie gesê het.

Dit gaan goed met mense
wat hulle krag in U vind
en graag na u tempel toe gaan.
Vir hulle gaan daar fonteine oop
wanneer hulle deur ‘n dorre laagte trek
en die vroeë reëns sy seëninge bring. (Psalm 84:6-7)

Advertisements