Hester se heerlike nostalgiese vertelling vanoggend het my aan ‘n episode uit my laerskooldae laat dink.
Ons was in standerd drie (= graad 5) en ek kan nou nog sy naam en sy voorkoms onthou – ‘n kort, maer seuntjie met donkerbruin oë, sproete oor sy neus en steil, vaal haartjies wat so regop gestaan het.
Eendag, toe ons weer in volkspele die vleg-innie-kring-beweging uitgevoer het (was dit op maat van die walsliedjie “Kom Patertjie, buig jou stywe dop, en volg jou nonnatjie in die kring”?) het hy ‘n taai toffie in my handpalm gedruk. Kan nou nog nie onthou wat ek aangevang het om blitsvinnig daarvan ontslae te raak voordat ek die volgende seunshand moes vat nie – seker maar in my kies gestop?
Ewentwel, sover ek kan onthou, was dit die somtotaal van ons interaksie.
Toe tref die slag my: word as erg bysiende gediagnoseer en moet ‘n bril kry! In die vyftigerjare van die vorige eeu was dit ‘n kolossale ramp, want “boys don’t make passes at girls who wear glasses”…
Op die heel eerste dag wat ek daardie ligpienk plastiekraambrilletjie skool toe dra, kom vertel ‘n klasmaat: “Arthur Kasselman sê julle is nie meer gekys nie want jy lyk nou te lelik.”
Gmmff – ek het nie eens geweet ons is gekys nie!
Ag Frannie, hierdie is dierbaar snaaks, man! So ń tong in die kies skrywe. Jy is oulik!🤨
Is julle terug, Una? Julle moet kom vertel, ‘seblief!
Frannie, ons land Maandag oggend in SA. Sal môre bietjie vertel, het my eerste af dag dan.
O, so julle het nog ‘n lekker langerige tydjie oor, geniet dit!
Daar het jy dit! Brilsielkunde! Jounaxwas darem pienk. Myne was dik, donkerbruin met silke effens puntjies of vlerkies kante toe, soos die Amerikaanse karre in daardie tyd aan d agterkant gelyk het.
Wonderlike vergelyking met die swierige karre! Ek het laterjare self so ‘n windmakerraam gehad, metaalblou, wat die heel verkeerdste kleur vir my was…kan nie glo ek het die ding gedra nie!
Those were the days. Hoop jy het latw3 die bevrydinv van kontaklense ervaar
Ja, het wel, toe voorkoms nog saak gemaak het.
Hoor hoe proes ek nou vir jou pittige staaltjie. Jammer hoor, dis erg as iemand sommerso afhaak en sê jy’s lelik. Maar ek lag nou vir die feit dat jy gekys was en niks daarvan geweet het nie. Oulik, Frannie.
Dis nou die fraaiste verhaal so uit die hart van kinderonskuld!
Wat n heerlike terugdink was dit nou. Daardie kysery was ook maar iets op sy eie. Was meeste vriendinne wat meer geweet het van jou kys as jy self. Daardie bril storie is maar sleg. Vandag kry die kindertjies heel mooi en kleurvolle brille om te gebruik. Dis ook of die kinders dit makliker aanvaar van beide kante!
Sies man, Arthur Kasselman! Mens maak nie so nie! 😀
Om te dink jy kon me Kasselman geword het was dit nie vir daardie brilletjie nie!!! 😍
😀
Arthur se verlies!
Nou ontkoming, te danke aan ‘n paar pienkraambrille. 😉