Lekkervurig het ons uitgedaag…
Gabby het waterpokkies. Dit lyk nie asof dit haar lyfie veel hinder nie, sy is vol lewenslus, maar haar gemoed is tans baie makaber. Sy het my op hierdie reëndag aan ‘n fenomenale dis voorgestel: “wortels met sprienkels” (‘n rou wortel in ringetjies gesny, dik besprinkel met daardie soet, veelkleurige vermicelli wat mens in sulke plastiekbakkies koop).
Dis ‘n onbegonne taak om die twee te isoleer, maar terwyl hy “koerant lees”, keer kleinboetie Joshua genadiglik op die bank om en raak aan die slaap tussen die advertensieblaaie wat hom so interesseer. Ek en Gabby kry tyd om haar haartjies moedermooi te kam en te vleg (dis nogal ‘n proses, want sy is erg kleinserig en ouma, hoewel nie kens nie, is mos nou nie handvaardig nie). Om haar te laat stilsit, is YouTube op ouma se rekenaar net die ding en toe laat ouma haar sommer gewetenloos verder kyk…
Om my gewete te sus, lok ek haar baaie later (!) daar weg met die vooruitsig van ‘n teepartytjie. In die middel van die sitkamermat word pappa se koelboks staangemaak met ‘n vadoek daaroor gegooi en vier ongemaklike plastiekstoeltjies, een aan elke kant gerangskik. Haar porseleinteestelletjie met die dom teepotjie wat omval as mens net te hard asemhaal, word reggesit. Daar is skyfies perske, energiestafies en rooibostee. Ouma moet ‘n memo van die genooides skryf: mamma, Joshi, Gabby, ouma, die hond en twee katte en een pop.
Joshua het intussen ontwaak en mens kan sien die outjie is lekker uitgerus. (Oor vanaand se stryd om weer te gaan slaap, swyg ek maar liewers.) Mamma kom tuis en die teepartytjie kan begin. Maar o wee, Joshua het reeds begin eet en daar is nog nie gebid nie! Die gasvrou beleef ‘n totale ineenstorting, dis drama en snot en trane. Ouma moet haar lens verstel – dis nie nou die tyd om komedie raak te sien nie! Na hewige emosionele onstuimigheid sit ons uiteindelik aan, die twee volwassenes steek ons kleims af met ons knieë hoër as ons ore. Die hond speel met graagte saam, eet ‘n ietsie en drink entoesiasties water. Die katte bekyk die spulletjie maar so van ver af. Natuurlik slaat die teepotjie om en tint die vadoek oker…
Vanoggend het Gabby ‘n prent van haar en ouma geteken “wat jy moet saamvat as jy weer sonder my gaan kuier”. Ek is so redeloos lief vir hierdie kindjie…
Bravo. Geniet jou kleinkind. Dis kosbaar dat selfs ‘n woordsnoer kunstig om haar geweef kan word. Dis nou oumaliefde.🤗🏆
Wat ‘n wonderlike beskrywing van ‘n kosbare gebeurtenis.
Dis ‘n mooi en liefdevolle oumastorie. Jy is nog lank nie vergewe vir jou Ierland-toer nie. Bêre maar daardie prentjie baie goed, ingeval jy dit regtig moet gebruik. Welgedaan Frannie.
Ek het jou geskakel op InLinkz. Net omdat jy ‘n ouma is wat wortels en sprinkles kan maak.
Baie dankie – ek is op sovele maniere bevoorreg!
Uitstekend geskryf, Frannie! Wat ‘n lekkerte om so met die kleingoed te kan omgaan. Ek ken daardie skelmte van gewetenlose kyk op rekenaar en Ipad…haha!!
Pragtig, so mooi onthou tyd in die uitdagings
OOOooo harde werk maar ure se plesier.
Frannie, jou kleinstes is so deurweef van jou ouma-wees en liefde. Amper soos as mens ń mat weef… Kan jy glo, ek het geleer om dit te doen. Baie jare gelede.
Hierdie was nou flink dink. Ek hou baie daarvan! En daardie hakskoene is ook iets om van te droom. 😁
Stem saam met daardie hakskoene! Dis te grys vir woorde die tekening.
Hiehiehie – ek het gewonder wie gaan daardie skoene raaksien!
Hiehie! Ek het ook as kind sulkes geteken.
Pragtig geskryf. Ouma- wees is heerlik( maar uitputtend).
Ag ek het dit nou so geniet Frannie 😁 Kan sien hoe sit ouma en ma met knieë verby ore.
Jy het beslis n gesellige prentjie geteken met jou woorde, afgesien van die etery voordat daar gebid is. Dis so lekker om saam te kan speel.
Kosbaar. Uitstekend geskryf.
Te oulik!