Ek het vergeet hoe wonderlik die wind deur ‘n populierbos kan ruis, hoe die blare hulle silwerkante na die wind draai, hoe die sonlig en skadu dieper in die bos flikker…Totdat ek en my kleindogtertjie gister, heel toevallig, langs so ‘n bos stilgehou het. Ons het nie in die bos gaan stap nie, maar koers gekies na die kinderspeelplek waar daar mense was. Hoe graag, hoe graag sou ek met haar handjie in myne deur daardie bos wou loop!
My kinderjare was geseënd met so ‘n bos, onderaan die yslike dorpserf van my tantes in Potchefstroom. In daardie bos was daar betowering en avontuur en net genoeg onrustigheid om die ervaring soveel skerper vas te lê. ‘n Koning van ‘n boom het die middelpunt gevorm, met nog ‘n paar groot bome en die kenmerkende digte opslagboompies daaromheen. Aan die een kant was daar ‘n vergane turksvyheining, waarvan die blare ragfyn geraamtes gevorm het wat mens uit die populierblaarlaag kon opdiep. ‘n Verweerde oranje tou aan die koningboom was ‘n teken dat nie net ek in hierdie bos gespeel het nie. Skemertyd het die bos vreemd en dreigend begin lyk en dan het ek vinnig padgegee na die warmte van my tannies se etenstafel.
‘n Leeftyd later, toe my wêreld om my verkrummel en ek na ‘n skuilplek soek, het die populierbos langs die stroompie anderkant die grens van die klein meenthuiskompleks die deurslag gegee. Nooit kon ek in daardie bos gaan stap nie, want dit was die blyplek van desperate mense. Maar ek kon luister na die ritseling van die blare en kyk hoe die lig deur die loop van die dag die bome verander.
Miskien wag daar ‘n populierbos op my, waar ek sonder huiwering sal kan stap… Sê nou net ek sien Vanilla, die wit boelterriër met die liefhebbende hart, vrolik deur die blare huppel… Sê nou net Skoonlief, my dierbare katjie met die glansende groen oë, kom my tegemoet…
Populierbos
19 Saterdag Sep 2015
Posted Uncategorized
in
Mooi gese
:0)
Aangrypend… jy mag maar…
Nou waar is daardie “like”-knoppie nou? Ieder geval: dankie, Tina.
Jy verdien elke een!
Ai hoe laat jy my nou verlang na iets wat ek nie eers by die naam kan roep nie. Op die plaas by Molteno was daar so populierbos en in die nag het dit behoorlik geklink of ons langs die see is, as die wind daardeur ruis.
Die inskrywing het my weer laat besef hoe wonderlik dit is om kommentaar te kry, want my blogvriende se opmerkings eggo oor en weer en maak van ‘n inskrywing soveel meer!
Pragtige beskrywing!Dit laat my onthou van die populierbos wat ons hier gehad het tot dit afgekap is. Dit was ‘n groot gat in daardie paadjie. Daar is min dinge wat so mooi ritsel soos populierbosblare. Daardie lang bome met hulle skilferstamme – as ‘n mens in so ‘n bos inloop, vou dit jou van boontoe af toe…. Ai.
Dankie vir die waarde wat jy tot hierdie inskrywing toevoeg deur jou wonderlike laaste sin! Ek wens jy het meer tyd gehad om te blog: kyk nou net hoe beweeg jy in daardie enkele sin van die werklike na die metafisiese…
Tannie Frannie vat my nou terug… Ons het altyd by my ouma en oupa (ek is deel van die Potchefstroom Simpsons) gaan kuier in Potties en die een populierbos het my betower daar as kind nog voor ek 10 jaar oud was. Dalk is ons Populiere een in die selfde plek….
Heheheh – nee, Wolfie, daardie bos was lankal weg toe jy ‘n kind was… Maar ons deel die populierbos van verbeelding, nie waar nie?
absoluut tannie
Ja – want vandag is dit nie meer veilig om in enige bos te wandel nie. So jammer. Oulik geskryf.
Hier in die stad durf ek nie eers met klein Gabby in ‘n parkie gaan stap nie…
Populiere het net ‘n ander bekoring. Ek het nooit in een gespeel nie, net altyd van ver af bewonder. My speelplek was bloekombome.
Oo, jaaa – nog ‘n boom uit ons kindertyd! Wil jy nie daarvan vertel nie?
Ons klimboom in ons tuin was ‘n populierboom. Hy kon praat. Jy kon sy blare pluk en dubbel vou en daaroor blaas. Dit fluit mooi as jy eers die slag gekry het. Soms is daar so ‘n dik knoppie op ‘n blaar se stingel net voor d blaar. As jy dit oopbreek, vlieg klomp piepklein muggies uit. Maar voor jy blare pluk, of ‘n takkie wat in die pad is afbreek, moes jy eers die boom vra…
En hy het altyd vir ‘n kind ja gese!
Dankie vir die pragtige vertelling 🙂
Hier op my bokkeveldplaas is daar sommer twee populierbosse en die skape hou baie van die blare selfs verlede somer se droe grys blare. Ek verbeel my die ritselende suisende blare maak die wind hoorbaar. Die hout is netnie goed vir n kaggelvuur nie want dit skiet yslike vonke! Ek hou ook van die gladde gryswir stamme en die goudgeel herfsblare teen Aprilmaand.
Dis ‘n baie aangename verrassing om van jou te hoor!