@toortsie vra watter klein jakkalsies ons pla. Tans voer ek ‘n stryd teen goggas. My kleindogtertjie Gabby se gesiggie word ontsier deur twee muskietbytkolle, gister wou twee pap vlieë saam met my kom vis eet en die afgelope week was ons effens bekommerd oor Gabby.

Eers was dit net twee piepklein rooi merkies op die sagte satynkussing-armpie. Toe word dit twee naburige waterblasies en die volgende dag is daar rooiigheid rondom die blasies. Toe gaan vra ons maar die dokter en dis ‘n “goggabyt”. Na antibiotikum en salf is dit nou onder beheer – en dit het in elk geval nooit gelyk asof dit my kleindogtertjie gepla het nie.

Waar was die goggas se aggressie toe ek ‘n kind was? Ek het ‘n veelkleurige vioolspinnekop in die kweperlaning bewonder, ‘n (platgetrapte) harige bobbejaanspinnekop gesien, in digte heinings ingekruip, boomgeklim en op hooibale in ‘n skuur baljaar sonder enige nagevolge…

Advertisements