Destyds, uiteindelik, na twee jaar se verlamming, het ek so ver gekom om ‘n nuwe blyplek te soek – een waar ek alleen, sonder Gewese Liefling, sou intrek.
Toe ek die populierbos anderkant die hoë traliesheining sien, was daar hoop op genesing in my hart. Toe het ek nog nie geweet dat daardie genade my eers 13 jaar later beskore sou wees nie. Al kon ek nooit in daardie bos gaan stap nie, het die ritselende blare vir my gelukkige kinderherinnneringe opgeroep. Die meenthuisie was pragtig ontwerp, deel van net 12 eenhede; daar was twee kleiner slaapkamers: een vir Laatlam en een vir my dogter wat toe nog op die skepe gewerk en na elke toer ‘n rukkie huis toe gekom het. Laatlam se hond Appel en die twee katte was welkom.
Die trek was uitputtend – ek moes goed opruim wat normaalweg Gewese Liefling se verantwoordelikheid sou gewees het: ‘n lendelam Wendyhuis, inhoud en al; olie op die garagevloer… Die trekmaatskappy was die goedkoopste wat ek kon kry en dit het my deeglik berou. Hulle het opgedaag met ‘n horingou geel-en-blou lorrie (nee, ek kan dit nie ‘n “meubelwa” noem nie!) wat swart rook gespoeg en verskriklik gebrul het. Ons het vroeg op ‘n Sondagmiddag by die kompleks opgedaag en al rasend met die straatjie langs gery tot reg voor die huisie. Toe die lorrie weer moes ry, moes die bestuurder die toere van die enjin opjaag om die ding met ‘n skrikwekkende geraas weer aan die gang te kry. Geen siel in die omgewing sou daardie middag ‘n Sondagdutjie kon inkry nie.
Binne die eerste week is daar by ons garage ingebreek en my dogter se mooi sportfiets is gesteel. Seker ‘n tas of twee ook, dalk van die bokse wat nog nie uitgepak was nie – ek wis nie mooi wat alles in daardie garage op my aandag gewag het nie. Die skelms het deur die populierbos gekom, met ‘n dienspaadjie langs beweeg en oor die muur geklim. Ek was net dankbaar dat ons niks gehoor en gaan ondersoek instel het nie.
Die eerste naweek wat ons daar was, het ek en Appel ‘n entjie in die kompleks gaan stap. Appel was die lieflikste hond, ‘n kombinasie van ‘n staffie-pa en ‘n bokser-ma, met die mooiste eienskappe van altwee en g’n duit aggressie in sy ou gladde bruin lyf nie. Dit was die eerste keer dat ek in ‘n kompleks gebly het en ek het nie gedink ‘n leiband is nodig nie. (Waar was my verstand? Maar ek was eintlik destyds soort van permanent van my verstand af…)
Ons was seker so 50 tree van ons hekkie af, toe vlieg ‘n foksterriër soos ‘n bliksemstraal by ‘n ander hekkie doer ver uit en takel Appel met tande, naels en ‘n verwoede gesnou, geknor en geblaf. Appel verweer homself en omdat hy omtrent drie keer groter en sterker as die foksie is, doen hy erg skade. Die foksie se baas kom aangehardloop, tel sy hondjie met sy kaal hande uit die woeste gemaal op en verdwyn in sy meenthuis; Appel en ek trek terug na ons nuwe, vreemde blyplek.
Daardie aand kom die opsigter en die leier van die inwoners my vra om asseblief my hond aan ‘n leiband te hou. Die volgende aand gaan klop ek by die foksterriër se huis en vra hoe dit met die hondjie gaan en hoeveel die veearts gekos het, bied aan om die rekening te betaal. Die man is baie stug, noem die bedrag, maar wil nie betaling aanvaar nie. Toe skryf ek maar ‘n briefie en sit dit saam met die geld in ‘n koevert wat ek by die opsigter gaan afgee. Dit was ‘n baie moeilike ding om te doen… Al die geld wat ek gespaar het deur met daardie ou lorrie by die kompleks op te daag, was nou in elk geval daarmee heen.
Ten spyte van die rampsalige begin, was ek gelukkig in daardie huisie. Eendag, toe ek regtig terneergedruk was, het ‘n kolgans-ma en -pa met die straatjie afgestap gekom, gevolg deur ‘n klompie klein bolletjies veertjies – soiets laat mens dink die lewe is tog mooi. My broer se twee kindertjies het soms kom speel – daar was lekker plek om op hulle fietsies te ry. Die bure se lieflike vierjarige dogtertjie het graag kom kuier – ek onthou ‘n koue winterskemering toe die geselskap van daardie kindjie al was wat my van wanhoop gered het.
Vandag, op Goeie Vrydag, onthou ek veral die voëlbadjie waar ek oorskiet-Nagmaalbrood gaan strooi het.
Goeie Vrydag – Sheila Cussons
Vandag is daar geen klokke nie
lui geen angelus:
die wêreld hou sy asem in
by die kruisiging van Jesus –
nee, anders is die waarheid
in ritme en in rym:
die wêreld drink sy wyn in die son
en niemand dink aan Hom –
O onpeilbare vademlose
diep geheimenis:
dat krummels en ‘n kring op ‘n tafel
daardie agonie werd is.
Una se gedagtes said:
Frannie, in my oë is jy braaf om daardie tyd te kom neerpen. Jy is sterk en jy het oorwin. Daaroor is ek so dankbaar saam met jou.🌹
Tannie Frannie said:
Ai, liewe Una, dankie dat jy my gehelp het om uiteindelik genesing te vind!
scrapydo2.wordpress.com said:
Jy laat my nou ook terugdink aan my alleen wees met ‘n twaalfjarige seun. Daar was nie tyd vir behoorlik beplan of dink nie. Daar moes net voort gegaan word. Baie mooi herinneringe wat jy nou na al die jare kan herleef. Jy het baie mooi alles neergepen. AS mens net gaan sit en begin kan mens amper nie glo dat alles so verloop het nie. Sheila Cussons se Goeie Vrydag beskryf die werklike gevoel vir die herdenking van Goeie Vrydag. So hartseer en waar.
Tannie Frannie said:
Janee, mens kyk met verstomming terug na jouself! Jy het ‘n goeie jop gedoen, Scrapy, want jou seun is lief vir jou.
scrapydo2.wordpress.com said:
Dankie Frannie vir jou mooi woorde.
Stories Uit My Wêreld said:
Hierdie is special!
Tannie Frannie said:
Die letterkundige museum van Bloemfontein het daardie gedig op fb gepubliseer – ek moes dit net met my blogmaats deel.
seegogga said:
Ai Frannie, en nou is jy hopelik weer tuis- in ander land en hoplik is die swaar tye verby
Tannie Frannie said:
Hierdie tuiste het so half onverwags gekom – en ja, ek is innig gelukkig.
seegogga said:
bly te hoor
woordnoot said:
Frannie, ek verstaan so goed jou pad. Ek moes al soveel keer oor begin. Het vandag my muur ornamente gehang….net om dit dalk oor 12 maande weer af te haal. Gelukkig is jy nou tuis. Hierdie gedig raak my diep
Tannie Frannie said:
Ek is bly dat julle darem al so ver is met julle trek. Mag julle gelukkig bly daar.
Toortsie said:
Liefste Frannie. Ek us so jammer dat sy soveel swaar moes beleef. Jy, wat nie ‘n vlieg skade sal aandoen nie. Ek is dankbaar dat jy noual ietsie daaroor kan skryf.
Tannie Frannie said:
Jou empatie is kosbaar.
wetanddustyroads said:
Dit lyk nie na ‘n maklike pad wat Tannie Frannie daardie jare gehad het nie. En om dit neer te skryf, moet sekerlik weer herinner aan daardie seer (maar ook dankbaarheid dat Tannie heelhuids anderkant uit is).
Tannie Frannie said:
Jy gee ‘n goeie beskrywing: “heelhuids anderkant uit” – en innig dankbaar, vir seker, liewe Corna.
Positief said:
Wat ‘n pragtige gedig en so waar. Dat tannie na alles steeds die mooie dame is, is vir my kosbaar en gee my hoop
trommeltjies said:
Wat ń kosbare gedig. Dankie dat jy ń stukkie van jou seer pad met ons kom deel het. Gelukkig het jy nou tuis gekom.