Julle weet Rebusfontein is denkbeeldig, ne? Maar die res van die storie is nie…

Frannie sit in die middel van Rebusfontein se verlate dorpsmeent. Aan haar voete lê Lelik en Danie – die res van Rebusfontein se diererykdom is skoonveld, nes die inwoners. Hier is geen ander mens of dier te siene nie! Frannie voel sommer behoorlik allenig en dis alles die dekselse Covid se skuld. Aan die ander kant is dit seker net so wel, aangesien sy haar voorgeneem het om hier te kom self-isoleer, nie om te kom ginnegaap in tipiese Rebusstyl nie.

Maandagoggend het Laatlam positief getoets. Dinsdagaand het Gabby nog haar ouma se hare in bokstertjies gekam, voordat die kleintjie Woensdagoggend vir twee koorsige dae op haar bed gaan lê en jammerklaag het. Joshua was Maandag hewig siek – en Dinsdagoggend perdfris, tot nou toe nog! Frannie het van Woensdag af begin griepmedisyne drink en in die bed gekruip, mens kon met haar niks uitrig nie. Haar skoondogter het soos ‘n brose skim deur die huis beweeg, die nodige gedoen gekry, uit blote wilskrag staande gebly.

Vanoggend besef Frannie sy voel beter. Almal in die huis is egter kort van draad. Joshua raas meer as gewoonlik oor die “hmmm’s” en “oukeis” waarmee ouma probeer om hulle (hoofsaaklik eensydige) gesprek aan die gang te hou. Laatlam maak planne vir groentesop, maar Frannie weet dit gaan nog ure duur voor dit reg is vir eet. Ai, en sy is so honger! Ja, en sy weet sy moet baie dankbaar wees dat sy honger is, want dit beteken sy’s beter, maar op hierdie oomblik maak dit haar net al hoe meer befoeterd.

Daar is net een uitweg: Rebusfontein toe. Sy sal in haar toringhuisie gaan bly en vir nog ‘n week en ‘n half wegbly van alles en almal af, soos wat ‘n verantwoordelike inwoner behoort te doen. Sy sal dalk so af en toe melodramaties by die toringvenster vir die ander inwoners wuif, net sodat hulle kan sien sy mis hulle en besef hoe offervaardig sy is en so aan…

En nou is daar niemand om voor te wuif nie! Geen musiek agter Woordnoot se groen deur nie; Toortsie se gordyne is almal toegetrek; Seegogga se stoep, waar Frannie haar sovele keer aan die heerlikste vrugtekoek vergryp het, staan leeg. Una se huisie is duidelik bottoe. Frannie sug en trek saggies aan Danie se ore. “Hei, ou grote,” prewel sy, “ek kan verstaan hoe Esau sy erfporsie vir ‘n pot lensiesop kon verkwansel…”