Scrapy het hierdie onderwerp langer as twee weke gelede voorgestel en ek is dus hopeloos te laat, maar ai, vandag loop my mond oor van wat in my hart is: my sewejarige kleindogtertjie Gabriella daar ver (so vreeslik ver!) in Suid-Afrika.
Gisteroggend stuur hulle mamma ‘n foto van die tweetjies voor die versierde kersboom, tjokkenblokvol klatergoudstringe en ornamente. Joshi staan selfbewus reg vir die foto, met die mooiste glimlaggie; Gabby omhels omtrent die boompie.
Op die video wat ook op my WhatsApp aanland, lewer Gabby ‘n volle lesing vir haar ouma: sy druk Joshua sagkens uit die pad uit en vis ‘n kersliggie tussen die stringe versierings uit om vir ouma te wys. Sy vertel dat die kersboom se agterkant maar so-so is (sy gebruik haar eie woord, iets soos “whêêngg”), maar dis oukei want niemand kyk na die agterkant nie. Sy stap na die deur om vir ouma die “sonnerige dag” daarbuite te wys.
Ek gaan kyk na ‘n video wat haar pappa aan die begin van die SA somer vir my gestuur het, waar sy in ‘n nuwe opblaasswembadjie heen en weer “swem”. Die badjie is seker so 40 cm diep, dus raak sy kort-kort die bodem, maar sy demonstreer verskillende style en beduie uitasem waarmee sy nóú besig is.
Waar kom die kindjie aan haar professionele aanslag: die amptelike lektorstemmetjie en die besliste gebare om verskillende aspekte uit te wys? Ouma is so beïndruk − te meer nog toe haar mamma vanoggend vir my vertel sy wil eendag ‘n “sosialemedia-ster” wees. Nouja – dis nie die dokter waaroor ouma gedroom het nie, maar ten minste het Gabby ‘n toekomsvisie…
N sosiale mediaster maak sakke vol geld. Dis beslis een van die nuwer beroepe wat nie 20 jaar gelede beskikbaar was nie
Dit gaan my verstand te bowe!
Sjoe ek kan dink hoe jy voel om jou kleinkinders can so ver af op video te sien. My vier-jarige kleindogter stuur vir my elke nou en dan ‘voice notes’. Dit is te dierbaar.
Ag en dan luister mens oor en oor, nè Anne.
Is daar nie bietjie van ouma in die juffroutjie nie? Dis nou behalwe die sosiale mediaster.. of nie?
Daar laat jy my nou diep dink, Kameel. Ek het daardie kindjie liewer as myself…
Ek voel jammer vir die oumahart wat so vreeslik verlang. Ek weet hoe graag jy by haar sou wou gewees het. Sterkte daar, Frannie 🧡
Baie dankie, Hester.