Die Amerikaners het ‘n tradisie om ‘n Kersfeesbrief te skryf, wat hulle by ‘n kerskaartjie insluit, waarin hulle ‘n oorsig van die afgelope jaar gee, sodat familie en vriende weet wat die hoogtepunte was. Hier is my Kersfeesbrief:
2025 was ‘n eienaardige jaar. Vroeg in Januarie was daar sneeu in die “warm” winter van South Carolina.
Begin Maart is ek terug Suid-Afrika toe om met die tweeling, Joshua en Gabby se nuwe sibbetjies, te gaan help. Hulle is op 31 Maart gebore. My kosbare skoondogter het na die babatjies omgesien en ek het huisgehou. (Ook maar goed dat ‘n mens gewoonlik betreklik jonk is wanneer jy ‘n huisvrou moet wees.) Voor ek SA toe is, het ‘n Amerikaanse vriendin vir my hierdie e-kaartjie gestuur:
Na ses maande van chaos en kleinkinderliefde het ek teruggekeer na die rustige heenkome van my dogter en skoonseun se huis in die VSA. Die verlange na Gabby, Joshua en die tweeling Lana en Luca was ‘n benoudheid in my hart, maar – soos altyd! – is daar vir my troos gestuur, naamlik ‘n prenteboekmooie baba.
Klein Theodore is op 15 Julie gebore en in September het my dogter hom bedags begin oppas, want sy mamma moes terug kantoor toe. ‘n Babalyfie om vas te hou! Malherbe skryf: “Sag op haar bloue oë daal die vaak …” Wel, die vaak gryp vir klein Theo en maak dat sy ogies omdop net voordat hy aan die slaap raak – dit bly vir “Ouma” ‘n bron van vermaak. Sy geredelike glimlaggie maak selfs die grysste wintersdag vol sonskyn.
‘n Lewensles wat ek sowaar nou nog nie geleer het nie, is: “Van uitstel kom afstel”. Uitstel het veroorsaak dat ek my kosbare stoepvriend nie eers een keer gesien het terwyl ek in SA was nie – so ook ‘n vriendin wat my lewe nog altyd op besonderse maniere verryk het. Woordnoot en ek sou ook nog gekuier het … Gelukkig het ek darem heelwat wonderlike oomblikke van warmte en omgee beleef: die verwelkomings- en afskeidsdrukkie wat ek by ons dominee gekry het; die opregte meelewing van my susters in Christus; die dag toe Hester Ley Nel die bloggers opgekommandeer het om te kuier; die sonnige teedrinkoggend saam met Toortsie; afsonderlike kuiers saam met my drie vriendinne wie se name aldrie met ‘n M begin; die dag toe een van die M’e vir Laatlam se huishouding ‘n splinternuwe wasmasjien laat aflewer het; en nog vele meer.
Terug in die VSA is ek weer eens met drukkies verwelkom – en my skugter kat Smokey het oudergewoonte op my skoot geklim, gekwyl en gespin terwyl sy haar kennetjie dan links, dan regs teen my wange skuur. My kind het ‘n huisvol vriende opgekommandeer om my mylpaalverjaarsdag wat stil-stil in SA verbygegaan het, te vier – dit was ‘n volslae verrassing. Haar vriendin se leefarea was vol ballonne (o.a. van daardie goue syfers wat my skrikwekkende ouderdom uitgespel het vir almal om te sien 🙄) en daar was ‘n reusekoek wat tot op die laaste krummel opgeëet is.
Die jaar was eintlik vol hoogtepunte, maar die blye herkenning op ‘n seun in die VSA se gesig voordat hy alles waarmee hy besig was, gelos het om my te kom groet, was die heel, heel beste oomblik.
Die oggend na Halloween sukkel ek om die swart naelpolitoer van my naels af te kry, want ons gaan nou op reis: vier ure se ry om by die kus van South Carolina uit te kom, in die “Lowcountry” by Hilton Head Island, waar P&V die Sondag as verteenwoordigers van Connie Maxwell Children’s Ministries ‘n kerkdiens gaan bywoon om die kinderhuis bekend te stel en steun te werf.
North en South Carolina is vernoem na die Britse koning Charles II wat van 1660 tot 1685 regeer het en Kaptein William Hilton met sy skip die Adventure gestuur het om die eiland se omgewing te gaan verken. Daar word bespiegel dat die eiland reeds tienduisend jaar gelede deur mense bewoon was. Die Spanjaarde het in 1526 hier ‘n nedersetting gevestig, maar dit het net ‘n kort rukkie bestaan en daar is nie veel daaroor bekend nie. Op Hilton Head Island was daar voor die Civil War ‘n “plantation” wat katoen, indigo en rys verbou het.
Ons ry deur myle en myle se hoë bome, deur klein dorpies waar die ontvolking van die platteland maar al te sigbaar is. Uiteindelik bereik ons die kus, waar die gebruiklike Amerikaanse welvaart weer duidelik blyk. P en Middelkind betrek ‘n reusagtige sportwinkel, waar laasgenoemde ‘n stel gholfstokke uitsoek waarmee hy die middag gaan speel en wat hy gaan saamvat huis toe, na Ierland toe.
Ons gaan eet almal saam in die klubhuis van die gholfbaan en dan maak die manne spore na die putjies toe. Ons akkommodasie is eers later die middag beskikbaar en ek en V besluit om in die klubhuis se restaurant te bly sit, sy met haar storieboek en ek met my rekenaar, wat ek op die nippertjie saamgevat het en waaroor ek nou innig dankbaar is. So kom dit dat ons in die middel van die prysuitdeling van ‘n gholftoernooi beland, met tientalle jolige Amerikaners om ons, besig om hulle kospakke te verorber en bier te drink. Niemand steur hulle aan ons nie, elkeen doen sy eie ding en almal is gelukkig. Die volume raak hoe later hoe harder en die pryswenners word luidkeels toegejuig. Geleidelik verkas die manne huis toe en uiteindelik is dit weer net ons twee en rustige stilte, behalwe vir die enkele werkers wat hulle alledaagse gang gaan. Teen vyfuur kom ons gholfspelers aangestap, moeg en tevrede na ‘n heerlike middag, en ons ry na ons verblyf vir die nag.
Skemertyd gaan verken ons die eintlike eiland, wat via ‘n breë motorweg bereik word (die eerste brug na die eiland is in 1956 gebou; voor dit kon die eiland net per veerboot bereik word). Die oostelike aandlug is pêrel en pienk; die stil, uitgestrekte see dein ver onder ons. Later ry ons na ‘n restaurant wat volgens V se navorsing die moeite werd is. Dit is binne ‘n eksklusiewe woonkompleks geleë en ons moet $9 betaal om daar in te ry. Die restaurant bestaan uit twee dele: die een binnemuurs; die ander een onderdak, maar sonder mure, net deur ‘n sloot met welige strandplantegroei van die strand geskei.
Omdat die aand koel is, gaan sit ons binne – daar is lapservette op die tafels; ‘n rustige, gemoedelike atmosfeer; en die gaste is duidelik welvarend. Ons kelnerin se naamplaatjie sê sy kom van Jamaika af en omdat ‘n orkaan ‘n paar dae vantevore dele van daardie eiland verwoes het, vra P met sy gebruiklike medemenslikheid of haar mense veilig is – sy weet nie, het nog nie van hulle gehoor nie. Toe P die tafelgebed doen, hou ons ook haar hande vas en P bid vir haar mense. Na ‘n heerlike maaltyd klim ons met ‘n houttrap oor die sloot en die plante en V, wat eintlik die siel van ‘n meermin het, dartel in die donker oor die sand tot by die see se skuimrandgolfies.
Sondagoggend gaan laai Middelkind vir P&V by die kerk af waar hulle gaan skakelwerk doen en na ontbyt ry hy en ek weer na die eiland toe. Die seefront is pragtig ontwikkel, met silwerskoon paaie en sypaadjies en gerieflike sitplekke orals. Met sy gebruiklike waarnemingsvermoë merk Middelkind op dat daar waarskynlik ‘n “klein army” is wat die omgewing so skoon hou. Ons gaan stap ‘n entjie op die strand – fyn, styfgepakte wit sand, sterk wind en ‘n pêrelagtige lig. Dan gaan sit ons net langs die strandgebied op ‘n groot houtswaaibank vanwaar ‘n mens die voetverkeer kan dophou: lawwe tieners, gesinne, enkelinge, mense met honde …
Daar is voorbereidings vir ‘n regatta: die seilbote maak ‘n ry aan die waterkant en ondersteuners skrop nes op seilstoele, met proviand vir die dag byderhand. Die Stars ‘n Stripes wapper in die wind en die volgende oomblik speel die VSA se volkslied, The Star-Spangled Banner. Ek sal nooit weet of dit ‘n opname was, of ‘n werklike sopraan wat iewers op die strand staan en sing het nie, maar dit is ‘n pragtige, aangrypende lied, en ek staan tot aan die einde – tot Middelkind se stille verleentheid.
Toe ry ons op Middelkind se voorstel na die Harbour Town Lighthouse en my kind bevestig maar net weer dat hy die meester van wonderlike uitstappies is. In die loop van die oggend het ek hom vertel van Pat Conroy se lieflike boek Beach Music, waarin die skrywer ‘n vrou se vurige rentmeesterskap van die loggerhead turtles beskryf – die ou groot reuse wat langs hierdie kuslyn hulle eiers op die strand kom lê. Dan moet die babatjies ‘n gevaarlike stuk sand navigeer voordat hulle see-in kan swem. Jouwaarlikwaar – in die winkeltjie op die grondvloer van die vuurtoring is daar ‘n ry van Pat Conroy se boeke en ek kom agter dat hy as jong onderwyser op die naburige Daifuskie-eiland skoolgehou het. Ons is by die strand wat hy so meesterlik beskryf in Beach Music! Ons klim die steil trap, al in die rondte, al in die rondte, en verkyk ons aan die pragtige uitstallings.
In die klein hawetjie lê luukse seiljagte en van die oop balkon op die tiende vlak van die vuurtoring sien ‘n mens die Harbour Town Golf Links uitgestrek lê – op die agtiende putjie gebruik spelers glo die vuurtoring as ‘n riglyn om daardie ontwykende hole-in-one te probeer regkry. Toe Charles Fraser in die middel van die twintigste eeu met sy besondere visie die hawegebied ontwikkel het, het hy enkele groot immergroen eikebome (“live oaks”) teen groot koste behoue laat bly. Ons stap terug na die kar toe en bewonder die ou bome, skilderagtig met Spaanse mos behang. Dis tyd om die ander twee te gaan oplaai en die terugtog na die binneland aan te pak.
Anything and Everything plus some Chess..."Despite the documented evidence by chess historian HJR Murray, I've always thought that chess was invented by a goddess"--George Koltanowski