Om boeke op te ruim, is hartverskeurend.  So kry ek heel toevallig blyke van my pa se liefde, in die opdragte voor in boeke se skutblaaie geskryf.

Ek soek uit: M.E.R. se outobiografie – My beskeie deel – my kinders sal nie eens weet wie dit is nie. Op die skutblad, in my pa se bekende, geliefde handskrif, staan daar:

“Aan Cisca Van Mamma en Pappa 28/12/1972.”

Voor in Dankbaar Die uwe, Anna Neethling-Pohl se outobiografiese “geselsies, verwerkte radiogesprekke” lees ek:

“Kersfees 1974. Met liefde. P.” Dit was ‘n geskenk van my pa aan my mammie, op die laaste Kersfees wat ons hier op aarde in sy geselskap kon vier.

Nog ‘n boodskap, dié keer in Eugène Marais se lewensverhaal Die groot verlange deur Leon Rousseau, lui:

“Kersfees 1974. Vir pappa, met innige dankies vir ‘n kosbare rukkie van saamwees. Van ‘Us-‘Us.” (Dit was my troetelnaampie, gemunt deur my kleinboetie toe hy nog nie “sussie” kon sê nie.)

Hoe bly is ek om hierdie blykie van waardering aan my pa te sien! In ‘n vergange briefie van my Tannie Katy skryf sy juis:

“Ons wil jou ook baie gelukwens met jou pappa se verjaardag. Mag hy nog lank vir julle gespaar bly en nog steeds toegewyde liefde van julle ontvang en ook aan julle gee. Dit is eers as ‘n persoon of ‘n diertjie nie meer daar is nie (sy moes pas van haar geliefde foksterriër afskeid neem) dat ‘n mens dink: Ek kon nog dit of dat gedoen het om sy of haar lewe aangenamer te maak en waarom het ek só of só opgetree as ek anders kon?”

Photo by Pixabay on Pexels.com