Lank gelede het my vriendin H ‘n artikel geskryf oor die herkoms van Afrikaanse woorde uit die skeepvaart. Dit spreek eintlik vanself dat die matrose wat by Cabo de Goede Hoop gekom en gegaan het, invloed sou hê op die Nederlands wat daar gepraat is.

Nouja, ek voel die afgelope ruk opgeskeep met myself. Volgens H is goedere “opgeskeep” wanneer dit op ‘n skip gelaai is en het die uitdrukking dus eintlik ontwikkel om te beteken “om iemand / iets in sy skip te hê waarvan hy nie veel goed verwag nie of wat hy liewer nie by hom wou gehad het nie.”

Aaaag, ja, ek sou ook liewer nie myself by my wou gehad het nie…

H vertel ook oor “grootskeeps” wat verwys het na gebeure op groot skepe, d.w.s. “op groot skaal of deftig”. My dogter se vriendin (ook H!) het eergister grootskeeps goedere aangedra sodat dit begin November saam met my na my dogter in die VSA “verskeep” oftewel “vervliegtuig” kan word.

In die proses is ek nie afgeskeep nie (= ‘n ouer woord vir “verskeep”, in die sin van “per skip stuur”, wat ook op ongewenste goedere en persone toegepas is en toe die betekenis van “te kort doen” ontwikkel het). Inteendeel ‒ ek het ‘n bos rose gekry, is op ‘n heerlike ontbyt getrakteer en is ‘n Uberborgskap lughawe toe belowe.

Iemand wat so bederf word, durf nie langer met haarself opgeskeep te wees of afgeskeep te voel nie.