In die onlangse skoolvakansie was talle oumas so bevoorreg om hulle kleinkinders se geselskap te kon geniet terwyl pa en ma moes werk – en ek was een van hulle. Op drie agtereenvolgende dae het ons in drie parkies hier naby ons gaan speel. Hierdie boompie het my vertel dis vroegherfs.

Joshua klim in die “perd” se kop in – hy sal dit nie veel langer kan regkry nie, die mannetjie groei vinnig!

Die kleintjies ontdek ‘n pragtige geverfde klip. Dis deel van ‘n gemeenskapsinisiatief – as mens so ‘n klip vind, moet jy dit weer wegsteek vir die volgende persoon om te ontdek. Vir die volgende twee dae soek ons na nog klippe in die ander parkies, maar tevergeefs. Ons sien wel op fb dat ander mense klippe kry – “ons” klip wat ons weer weggesteek het, word ook (her)ontdek.

Op die laaste dag van ons parkie-driekuns gaan ons na die mooiste parkie, gewapen met koeldrank en eetgoed. Dis weer ‘n lieflike dag. Daar is ‘n bankie vir ouma, gerieflik naby die bolvormige klimraam wat Joshi en Gabby bestorm. Gabby hang onderstebo aan haar armpies en skop dan haar plakkies uit, dat hulle soos vrot velle links en regs val – iets wat ouma geweldig vermaaklik vind.

Ons stap twee keer die paadjie wat reg rondom die parkie uitgelê is. Joshi en Gabby pak die “oerwoud” op ‘n bultjie aan en Josh meet kragte met doringtakke (hy het verloor, maar hy is trots op die prikmerke op sy armpies – medaljes van onverskrokke avontuur).

Wanneer al drie lekker moeg is, gaan ons huis toe, versadig van vars lug, deurdrenk van sonlig, gestreel deur die lieflike vroegherfs.

Dankie, Heer, vir vrede en veiligheid. Ontferm U tog oor die kinders wat deur oorlog verskeur word.