Terwyl ek 14 maande in die VSA gekuier het, het ek my vaderland en sy mense baie gemis.

Vanoggend kon ek weer my landgenote se spontaneïteit en gemaklike gemeensaamheid beleef en geniet. ‘n Yaris draai voor my in en ons volg dieselfde roete winkels toe. Die bestuurder is ‘n goed versorgde jong vrou: hare hoog opgekam, swaaiende oorbelle. Die passassier wat agter sit, se lang helderkleurige romp is in die deur vasgeknyp en wapper vrolik, so ver soos wat hulle ry. Ek sien verlig dat die materiaal darem nie in die wiel verstrengel gaan raak nie.

‘n Hele ent verder hou ons by ‘n rooi robot stil. Drie manne in oorpakke sit onder ‘n boom in die lang gras, hoopvol om stukwerk vir die Saterdag te kry. Rustig staan die een op, loop nader en maak die agterdeur van die Yaris oop. (‘n Ongesluite kar in die misdaadstrate van die stad?) Behendig vou hy die romp in die kar in, maak die deur toe en stap terug na sy plek onder die boom. Die dankie-gebare uit die Yaris erken hy deur liggies teen sy pet te tik en sy kop ernstig te knik.

Ons ry verder en die Yaris raak verseil tussen die verkeer, maar my hart bly warm oor die mooi bedagsaamheid van ‘n wildvreemde man.