
Dis Doopsondag.
Drie klein lewetjies word vanoggend aan die Here opgedra as sy kinders.
Ons predikant het die manier om na die doop elke babatjie by die ouers te vat en aan die gemeente bekend te stel, terwyl hy ons aanspoor om die kindjie deel te maak van ons geloofsgemeenskap. Toe hy dit ‘n paar jaar gelede die eerste keer gedoen het, het my hart amper gaan staan – sê nou net daardie kleinding haak af en skreeu blou moord? Maar ek het ons dominee se charisma heeltemal onderskat.
Vanoggend is dit weer so: Die eerste babatjie, ‘n fyne kleine duimpelinatjie, met satynsandaaltjies en ‘n blommetjie op haar koppie, sit in dominee se hande en skop met haar voetjies. Terwyl hy praat, rek sy haar blou ogies wyd oop en glimlag met haar hele hartjie vir hom.
Die tweede meisietjie is geklee in ‘n pragtige dooprokkie met ‘n gehekelde kopbandjie. Terwyl dominee met ons praat, kyk sy diékant toe, om dan, net voor hy klaar is, skielik met volle aandag en verstomming na hom te kyk.
Die derde baba is effens groter as die ander, gebore iewers in die erge covidtyd en nou reg om gedoop te word in sy blou-en-wit hempspakkie. Hy ontvang die drie druppels water rustig en kyk ernstig na die gemeente aan wie hy voorgehou word.
“Laat die kindertjies na My toe kom…”
‘n Kinderhospitaal in Israel stuur ‘n mediese afvaardiging om by ‘n vlugtelingsentrum die Ukraïense kindertjies te gaan help. Hulle gaan ook kinders wat in hospitale in Kiëf was, in Israel ontvang en behandel. Die hoof van die hospitaal sê: “We at Schneider believe and know that children, wherever they are, are our future, in Israel and around the world. We are proud to be part of this delegation and hope for better days.”
Dankie vir jou hoop #woordwarrel. Ek sit vanmiddag in trane voor die televisie toe weeskinders se oppasser betraand vertel hoe haar hart vir haar sorgkrose breek wat per trein na veiligheid gebring moet word. Kan Putin tog gestop word deur ‘n engeleskaar soos Elisa en Gehasie is my gebed.
Ek het nie genoeg moed om te kyk nie, lees net effens hier en daar. Ek sal moet gaan nalees oor Elisa en Gehasie en dan sal ek by jou aansluit.
Ek hoop dat ons meer as net flenters gemors aan ons jeug gaan nalaat. Hierdie aarde is misbruik deur ons en vorige geslagte.
Dit is ongelukkig baie waar…
Fran, jou doop-vertelling is mooi.
Children are our future and certainly do not deserve to experience what those Ukrainian children are going through. Your narration of the christening is such a contrast to that and indeed fills me with hope that the rest of the world can, for once, agree on stopping these frightful actions.
Ai Frannie en bly weg van die nuus af. Dis hartverskeurend. Jy vertel die doop so mooi.
Waar daar lewe is daar hoop maar om te moet lewe soos daardie kindertjies is uiters hartseer. Jou vertelling wys ook hoe kalmerende so ‘n gelowige dominee is, dit gee mens hoop dat daar wel vrede kan wees al is dit binne in jouself.
Dis ‘n mooi hoop storie Tannie Frannie. Ek probeer ook maar so half die nuus mis … my hart ruk altyd vir die onskuldige kinders in oorlog.
Dankie Frannie…ek sien netnou ‘n post op FB (ek kuier bittermin daar) van rye stootwaentjies wat deur Poolse mammas op die stasie gelos word sodat die mammas wat vlug van Ukraine vir hulle kiddies ‘n waentjie het…..hoop in klein babas se goedelowige ogies en dan in ‘n ry stootwaentjies…
ag dis hartverskeurend…