As student het my dogter twee maal op ‘n uitreik na Mosambiek gegaan. Toe ek vir haar foto’s uit Bilene stuur, was haar reaksie: “Daardie water is so mooi soos ek dit onthou”.

Foto deur Woestynkind

“Helder die groen van ‘n brander se kruin − waar die sonlig dit vang voor hy vou…” (Randall Wicomb: “Kleur”)

Wanneer ek nou terugdink, besef ek: Mosambiek is kleur.

Die mense se klere is helder – van José se bont bermudabroek en luiperdpatroonhempie tot by die rooi bloesie en bypassende sisromp van die vroutjie wat langs die markstalletjie sit. Ek dink sy is siek, want sy is baie maer en die stoel is duidelik spesiaal vir haar uitgesit. Daar is ‘n sagtheid in haar uitdrukking soos wat sy ons, “toeriste”, met belangstelling bekyk.

Een dag kom Arleta werk met los haarverlengings ipv haar gebruiklike bolla en ek merk verras op dat die punte diep pers van kleur is.

Nou nog is ek spyt dat ek nie ‘n foto geneem het van die skoenstalletjie nie: netjiese rye plakkies in die helderste kleure.

Selfs bruin kom in talle skakeringe: kasjoeneute, honde, kleipotte…

In Bilene is ‘n reënboogkroeg met die vriendelikste kroegman.

Tot ons drankies was kleurvol: rooi koeldrank en rum; pienk Strawberry Lips-likeur met klein ysblokkies.

‘n Mark langs die pad is ‘n kunswerk – torings van kleur en lekkerte: groot geel lemoene, helderrooi tamaties en klein piesankies wat aan die plant ryp word en rêrig na piesang smaak.

Die kleurvolste van alles is die persoonlikhede saam met wie ek daardie heerlike week kon beleef. Dankie, Una, Positief en Woestynkind, vir die vreugde van ’n voornaamwoord: “ons”.