Dis ons laaste dag in Bilene. Die mond is oop en die see se golwe spoel sagweg in die strandmeer in. Die son straal en die growwe sand skitter. Ons swem te heerlik daar in die mond se blou en goue water.

So teen vieruur klim ons in die bakkie wat op ‘n graskol geparkeer was en begin terugry na die lodge toe. Maar ag, ons vorder nie ver nie, toe val die bakkie vas in die strandpaadjie – sy agterwiele diep in die los sand ingegrawe.

Ons is nie te bekommerd nie – het mos die vorige dag gesien daar daag gewillige helpers op wat sommer een-twee-drie weer die wiele los het. Moeilikheid is net dat hierdie paadjie aansienlik meer afgeleë is as die vorige dag se pad al langs die strandmeer en naby mense se woonplekke.

‘n Enkele voornemende visserman word raakgesien en nader geroep, om hulp gevra. Hy laat staan sy donkerblou plastiekkontrepsie net daar op die sand onder die dennebome (is dit ‘n houer vir die visse wat hy sou gaan vang het?) en kom aangestap saam met sy metgesel, ‘n vriendelike Mosambiekse AfriCanishondjie.

By die restaurant met die platoniese kaasburger was daar ‘n In Memoriam-plakkaat met foto’s van “Smiley”, ‘n ligte beigekleurige hondjie waarvan die bekkie werklik geglimlag het. Roy se hondjie met haar maer lyfie en lang bene lyk net soos Smiley. Sy bly uit ons pad uit terwyl ons die sand probeer weggrawe maar gaan nie te ver weg nie, hou haarself besig deur met ‘n stok te speel.

Na ‘n lang dag en baie foto’s is die selfone se batterye amper pap, maar Positief kry darem ‘n noodoproep gemaak om hulp te ontbied. Die lodge stuur helpers oorland en ook per boot, maar dit gaan moeilik wees om ons op te spoor. Woestynkind begin die lang pad lodge toe stap, sodat sy die hulpgeselskap sal kan beduie waar ons vasgeval het.

Roy kap lang dennetakke met sy vlymskerp panga af, kap al die klein takkies af en lê dan die takke voor die wiele neer.  Uiteindelik is daar ‘n dennetakspoor voor elke wiel, maar Roy (net so maer soos sy hondjie), Positief en ek self het nie genoeg gesamentlike krag om die bakkie ver genoeg te stoot sodat dit die spoor kan vat terwyl Una bestuur nie. Ons wag nou maar vir die helpers om op te daag.

Die son begin stadigaan wegsak, loer soos ‘n dowwe goue bal agter die grys wolke uit. Ek is so bly oor hierdie rustige tyd in die buitelug, sit op die sand met Roy se hondjie styf teen my rug aangeleun, ‘n gerusstellende warmte in die skemer.

Die oorlandgeselskap daag op en een-twee-drie is die bakkie los. Die bootgeselskap daag te laat op om van enige nut te wees. Una gee haar laaste Portugese geldjie vir Roy en hy en sy hondjie kry koers na waarheen ook al, hulle oorspronklike planne vir die laatmiddag heeltemal in die wiele gery.

By die lodge het Woestynkind haar bekommernis oor ons verwerk deur solank potte water te kook en reg te hou – ‘n bad was nog nooit so lekker nie. Na ‘n heerlike aandete gaan ons vroeg slaap. Die uurglas van ons Mosambiekse avontuur loop uit…