Una die beach babe, ons gasvrou in Mosambiek

Sy is ’n mens-mens, iemand wat diep voel en fyn kyk. Haar totaal onverwagse uitnodiging om ’n week lank saam met haar en nog twee bloggers langs ’n Mosambiekse strandmeer te gaan bly, beland langs my soos ’n reddingsboei in ’n stormagtige see. Ek gryp dit vas en word uit die stormsee gered, sagkens neergesit langs waters waar rus is.

Ongemerk sorg en versorg sy – maak sonder ophef die heerlikste potte mieliepap, beplan aandetes, koop vis en groente en vetkoeke en pão.

Vreesloos verjaag sy die rot wat een nag oor haar voete kom hardloop; onverskrokke bestuur sy die dubbelkajuitbakkie op die strandpaadjies, deur diep sand en oor gladde spore.

Daar in die paradys help sy my opnuut besef dat die lewe ’n vreugde is, oftewel ’n fees, soos wat die blou stoel op die kafeestoepie dit stel.

Iemand wat die avontuur van leef met hart en siel aangryp, is Woestynkind. Wanneer sy uit pure uitbundigheid haar arms in die lug gooi, kan mens nie anders as om saam met haar bly te wees nie. Haar liefde vir diere is opmerklik uit die stemtoon waarmee sy met die boerboele gesels en niemand kan meer sielsgeluksalig op ’n lilo ronddryf nie.  

In Positief se mooi blou oë is daar ’n onnutsige vonkel. Haar bynaam onder die Mosambiekers is The Boss. Ek verkyk my aan die slag wat sy het om mense te motiveer, hoe hulle ewe vrolik spring om te doen wat gevra word. Soos wafferse tydrennavigator moedig sy Una aan: “Gee petrol,” of “Gaan vir die gras!”

Pas nadat die twee hard gewerk het om die bakkie se pap battery te help herstel, kom ek op hulle af waar hulle besig is om mooi te maak – Positief, in haar helderkleurige Hello Kitty-hempie en reënboogbroek, vleg Woestynkind se hare. Vrouens is kosbare wesens!