Joshua besit die groot plastiekdop van ‘n staanverwarmer. Hierdie dop sorg vir verskillende speletjies, bv. “Ek is ‘n robot”, of “Ek is ‘n astronaut en dis my space suit”.

Vanoggend het die swaaideksel met die skreef waardeur sy een bruin ogie vir my kon loer, ongelukkig afgebreek terwyl hy en sy sussie gespeel het die dop is ‘n “vending machine”: Joshi sit agter die dop, Gabby sit papier-“geld” deur die skreef en kry deur die deksel speelgoed in ruil. In die proses is die deksel daarmee heen.

Ouma sit en soek na die Afrikaanse term vir “vending machine”. Al wat sy kan opspoor, is die outydse “muntoutomaat”, wat in hierdie tyd van geldkaarte heeltemal verouderd is. Toe gee sy maar die stryd gewonne en bekyk net die speletjie sonder pogings tot taalkorreksie.

Kort voor lank skater ouma weer van die lag, toe Joshua se sussie sy gebruiklike woordevloed onderbreek met:

“Shush!! Vending machines kan nie praat nie!”