Hier sit ek en skryf met Lelik se tingerige katlyfie op my skoot.

Oorkant my in die laaste kompleks waar ek gewoon het voordat ek onder Laatlam se dak ingetrek het, was daar ‘n pas geskeide man wat met twee honde en drie katte agtergelaat is. Toe hy wegtrek en die katte wou saamneem, het die wilde wit kat hom flenters gekrap en ontsnap. Daarna het sy maar so wild-wild in die kompleks gebly, totdat die katliefhebber wat haar elke dag op die stoep van die leë huisie kom voer het, die hulp van ‘n kundige ingeroep het om die kat te vang. Die uiteinde van die saak was dat ek ‘n nuwe kat bygekry het, asook twee kosbare vriendinne.

In haar vorige lewe was die kat se naam “Snowy” en die jong vrou wat haar kom voer het, het haar “Spokie” genoem. Daarna het Laatlam en sy meisie haar “Terre’Blanche” gedoop (omdat sy wit is), wat later sommer “Têrr” geword het. Ek het ‘n ruk lank probeer om haar die Ierse naam “Pangar” te gee, n.a.v. die naam van die wit kat van ‘n Ierse monnik.

Omdat sy spierwit is, is sy baie sensitief vir sonlig en ai, sy is so lief daarvoor, lê so graag iewers in die sonnetjie en bak. Sy moes al twee operasies ondergaan om die slegte gevolge van te veel sonstrale te bekamp en het in die proses een hele en een halwe oor verloor. Toe noem my kinders haar sommer “Lelik” – die naam wat tot vandag toe bly vassteek het.

My skoondogter gaan haal haar vandag by die veearts (haar een tandjie moes getrek word): “O, jy kom vir Lieflik haal!” begroet die ontvangsdame haar en verduidelik dat sy dit nie oor haar hart kan kry om so ‘n liewe kat “Lelik” te noem nie.

T.S. Eliot het ‘n wonderlike gedig oor katte en hulle name geskryf. Ek vermoed “Lieflik” is Lelik se geheime naam.