San het die Goue Vroue soos volg getoets: “Het julle al geskryf oor die kostelikste oomblik met ‘n kleinkind? Indien nie – dit kan ook ‘n oulike boek maak. Dalk ook in alfabetiese orde??? I donno. Besluit maar…”

Inlinkz-skakel vir al die oupa- en oumastories: https://fresh.inlinkz.com/party/2808199db9894254b848ffd032d39e8c

Toe ek aftree, het my liewe skoondogter haar hart en haar huis vir my oopgemaak. Sy het my vertrou om van babatyd af een-een na albei haar kosbare kindertjies om te sien toe sy lang ure buitenshuis gewerk het, met die gevolg dat daar ‘n besonderse vertrouensverhouding tussen ouma en kleinkinders gegroei het. Hierdie kindertjies is my skans teen die ouderdom en ek is geseënd om hulle woeligheid elke dag van naby en met vreugde te kan beleef (al ontaard ek soms in ‘n “grumpy old woman”). Ek is deel van Laatlam se huishouding en my skoondogter vertel as Joshua ‘n prentjie van ‘n gesin teken, is daar altyd ‘n ouma ook daar iewers. In my reeks skryfsels met die titel “In die oomblik” is daar talle vertellings oor ouma en kleinkinders, maar daar is elke dag nog iets nuuts om te vertel.

Joshua is ‘n gekompliseerde karakter met ‘n verstommende verbeelding. Nou-die-dag vis hy die verestoffer agter my spieëlkas uit en kom staan langs my, waar ek oudergewoonte agter die lessenaartjie sit. Hy beduie vir my hy is ‘n stofsuier en daar is ‘n kabel wat ek uit sy middellyfie moet trek en teen die lessenaarlaai moet inprop. Dan moet ek die groen knoppie op sy voorkop druk. Ouma volg die instruksies noulettend, want die mannetjie raak vreeslik ontsteld as dinge nie reg gedoen word nie.

Toe die groen knoppie gedruk is, vee Josh stadig die stoffer se plastiekomhulsel ondertoe, sodat die mooi groen volstruisvere ontbloot word. Nou moet ek die rooi knoppie op my stoel se armleuning druk – nee, nie daar nie, dáárso, ouma! Die stofsuier zoem onderlangs en begin die papiersnippers opvee wat hy vroeër gemaak het (die skêr was ‘n kwaai animal wat ‘n papiervoël gehap het). As alles op ‘n hopie is, verander die stofsuier vir ‘n kort rukkie in ‘n asbliklorrie wat dit opruim en weggooi. Toe die werk klaar is, moet die stofsuier gebêre word. Eers word die vere seremonieel deur die plastiekomhulsel bedek. Dan moet ouma die kabel uit die laai uitprop. Sy skrik haar lam vir ‘n onverwagse klankeffek: ”Kirrrrrr!!” zirts die denkbeeldige kabel terug in Joshi se sy in – kompleet soos ‘n regte stofsuier dit sou doen.