Die Goue Vroue is ‘n handjievol Suid-Afrikaanse vroue – oud en jonk – wat lief is vir skryf.  Ons is geanker in die werklikheid, maar spoor mekaar met bloguitdagings aan om te fantaseer.  “The Talking Stick” dien in hierdie geval as inspirasie tot wonderbaarlike stories…elke Goue Vrou kry haar beurt.  Hierdie rondte pak ons in alfabetiese volgorde aan.

Dit werk so: as jy die praatstok vashou is dit jóú beurt! Jy praat en die ander moet luister sonder om jou in die rede te val. As jy klaar is met jou storie, gee jy die praatstok vir die volgende persoon aan. (Hierdie konsep is deur Stephen en Franklin Covey in hulle kursusse tot meer effektiwiteit benut om empatieke luister te bevorder).

Volg hierdie skakel as jy ons Goue Vroue se stories in volgorde wil lees:
https://fresh.inlinkz.com/party/fe16b378ba494670a41c59177986b352

Die praatstok het hier by my beland…

…en nou pik-pik my gedagtes soos verkeerdeveer-hoendertjies wat skrop op soek na iets lekkers.

Ek wou oor Afrikaans gepraat het, vertel het hoe ons besig is om ons kosbare erfenis te verloor – maar ag, dis laat in die aand en dis winter en ek het nie nou die krag vir so ‘n ernstige betoog nie.

Toe gaan slaap ek en nou is dit oggend. Soos gewoonlik dink ek aan my liewe dogter daar ver in Amerika se gebed saam met die seuntjies wat sy en haar man versorg by hulle “student home”: “Heavenly Father, thank you for adding another day to our lives!”

Maar inspirasie bly uit…

Volgens my ou HAT beteken “praat”: 1. Jou gedagtes hardop uitspreek; 2. Gesels; 3. Deur woorde iemand, iets in ‘n bepaalde toestand bring.

“gesels” omskryf die woordeboekmakers soos volg: 1. ‘n Gesprek voer, informeel met mekaar praat; 2. ‘n Bespreking hê; 3. Praat by wyse van ‘n teregwysing.

Ek is deel van twee groepe op fb wat oor Afrikaans praat – het g’n benul hoe ek daar beland het nie, is mos tegnologies gestremd – maar ek lees ewe gelukkig en gesels (praat?) soms saam. Onlangs vertaal iemand “I like to talk to you” – moes eintlik “I like talking to you” wees, maar toemaar, Ingels is geduldig – met “Ek hou daarvan om met jou te praat”. Ek stel toe ‘n ander moontlikheid voor: “Ek gesels graag met jou” en word heeltemal uitgeboul deur haar antwoord dat dit te formeel is. Kom toe agter dis omdat ek HAT se betekenis 1 aan “gesels” heg, maar die skrywer op fb dink eerstens aan betekenis 2. Soveel kans op misverstand, selfs onder mense met dieselfde belangstelling…

Hoe ek ook al probeer, dis moeilik om my gemoed so sonnig te kry soos die lieflike wintersdae hier buite. Die een na die ander stuk slegte nuus tref my hart en ek huil namens die mense wat verlies ervaar. Skryf (in hierdie geval praat met die stok in die hand) is veronderstel om terapeuties te wees, maar vanoggend het ek (goddank) ‘n ander terapeut: ‘n klein seuntjie met blink bruin ogies wat vir my kom vertel van sy rekenaar en my uitnooi om te gaan kyk.

Dankie, hemelse Vader, dat U dit goed gedink het om nog ‘n dag by my lewe te voeg.

Trommeltjies, dis nou jou beurt.