Joshua (5 jaar oud) speel graag hy’s ‘n hondjie. Dan spring hy van buite teen ouma se deur op, druk die handvatsel af en stoot die deur oop. Handeviervoet kom hy die kamer binne en waai sy stert. Soms is hy ‘n reeds bekende hond, maar meestal is dit ‘n nuwe hond wat nou weer in ouma se kamer beland het. Dan moet hy ‘n plastiekbakkie vars water kry. As ouma (soos gewoonlik) voor die rekenaar sit en ietwat onwillig lyk, verander die hond ‘n rukkie lank in Joshua, totdat hy die bakkie met water vir die hond neergesit het. Dan drink die hond lekker water en spring op die bed om ‘n bietjie te kuier.

In die amper vyf maande wat ouma weer tuis is, was daar al ‘n hele paar honde met ‘n hele paar name, bv. Wagter, Flaffie, Perske, Piesang en Kersie (‘n ou hondjie wat stadig beweeg). Vandag, toe ouma se voorstel van “Vlekkie” nie byval vind nie, het sy ten einde raad die naam “Vrugtesap” vir ‘n nuwe hond voorgestel.

Joshua, kopskuddend:

“’n Hondjie wat se naam is ‘Vrugtesap’ – daai puppies don’t exist.”