Joshua, my vyfjarige kleinseun, is ‘n ingenieur van formaat. Hy besit ‘n hele klomp waaiers, groot en klein, in verskillende stadia van aftakeling. Wanneer hy vir die hoeveelste keer die ou groot bruin staanwaaier aanmekaarsit, moet ouma die heeltyd kyk: agterste draadskerm; skroef; lem; skroef; voorste draadskerm; dan die toets of die ding nou werk – inprop en aanskakel.

Joshua kan hom verkyk aan Youtube-video’s waarop mense ou waaiers skoon- en heelmaak, terwyl hulle die kyker vertel waarmee hulle besig is (die kommentaar is natuurlik alles in Engels).

Vandag is dit weer sulke tyd en ouma moet kyk, al probeer sy eintlik werk…

Maar ai, hoe bly was ek dat ek aanhou kyk het, want nadat die outjie my ingelig het dat hy nog die “laaste part” moet sê, rond hy ewe plegtig af, handjies formeel teen mekaar geplaas, met:

“And that is hoe ‘n man ‘n waaier fix.”