Vanaand het ek al die sorge van die ouderdom weggelag in ‘n lagbui wat my lamgelê het.

Joshua speel nou al twee dae ‘n speletjie waarin hy ‘n ruimtevlieënier is. Op ‘n ou musiekstoel het hy ‘n lang kontakprop met verskillende konneksies staangemaak (die draad hang teen die kant af en gaan gelukkig nêrens heen nie). Daarin word ‘n stewige skroewedraaier gesteek waarmee hy vroetel wanneer hy die ruimtetuig bestuur. ‘n Kleiner skroewedraaiertjie is in ‘n bars in die hout gedruk en word op en af beweeg. Hy sit op ‘n rooi plastiekstoeltjie en agter hom staan twee geel plastiekstoeltjies waarop sy passasiers sit (die een het ‘n sagte kombersie op, dis ouma se sitplek).

Vanaand sluit sy sussie by die speletjie aan, verklaar haarself assistent-vlieënier en annekseer die ander stoeltjie. Sy gaan haal haar duvet en ‘n pienk teddiebeer wat amper so groot soos sy self is om as kussing te dien.

Hoe sy dit reggekry het om die beer as kussing op daardie klein stoeltjie te gebruik, weet ouma nie, want teen daardie tyd het die lagbui ouma reeds oorweldig. Sy het naamlik die absolute ontsetting op die vlieënier se gesig gesien oor hierdie vreemde pienk voorwerp wat nou moet saam die ruimte in…