Ná die oker en amber van laatmiddagsonlig teen baksteenmure en boomstamme, onder die goud van die volmaan op ‘n windstil herfsaand in Pretoria, sit ek en peins oor die begrip “huis”.

Wat maak van ‘n woonplek ‘n tuiste? Is dit die meubels, gordyne en kleur van die mure? Die prente wat daar hang en hoe die voordeur lyk? Die troeteldiere wat daar woon, die plante wat daar groei? Is dit die leefstyl van die huismense, die kos wat daar geët word, die roetine deur die dag, of sommer net die mense self?

Sou ek al die adresse neerskryf waar ek al gebly het, sou dit ‘n lang lys wees. Ek was egter so geseënd om van driejarige ouderdom af in dieselfde ouerhuis groot te word en baie jare later steeds daarheen te kon terugkeer. Daardie huis was my anker terwyl ek geswerf het…

In ‘n woonstelblok met die ironiese naam “Joie de Vie” het ek en ‘n universiteitsvriendin huis opgesit. As mens jou arms uitstrek, kon jy die kombuismure aan weerskante raak, so klein was die ou plekkie. Daar moes ek vir my laaste eksamens studeer terwyl ek ‘n epiese liefdesteleurstelling deurmaak; later pynlik by die roetine van elkedag se gaan werk aanpas. Tog was dit ‘n goeie tyd van vriende, partytjies en Sturm und Drang. Ons het opgradeer na ‘n duplekswoonstel in Arcadia; ‘n jaar later is my vriendin oorsee en moes ek afskaal na iets meer bekostigbaars vir net een mens.

Daar was ‘n eenslaapkamerwoonstel en ‘n privaathotel in Sunnyside; minder as ‘n jaar in ‘n woonstel op die 14e verdieping van ‘n toringblok langs Joubertpark in Johannesburg; ‘n tweeslaapkamerplek terug in Pretoria, waar die straatkatjie waaroor ek my ontferm het, my met drie klein katjies gepresenteer het. Enetjie het ek weggegee, maar die ander twee en hulle ma het saam met my verder getrek.

Ek en die katte het in ‘n baie ou woonstelletjie in Sunnyside gaan bly, met ‘n rooigepoleerde sementtrap en agt houtposbussies op ‘n ry in die portaal. Daar was ‘n palmboom met ‘n kolonie kransduiwe voor die oop balkonnetjie op die eerste verdieping; ‘n liggroen enemmelstofie; ‘n bad met bal-en-kloupote; en ‘n houtrakkie wat bo teen die mure reg rondom die sitkamer aangebring was, vanwaar ek my prente met nylontou kon laat afhang, aan die agterkante met spons gestut om ‘n treffende drie-dimensionele effek te skep. Dis hier waar my kat Bliksem deur ‘n bolig ontsnap en in ‘n buurvrou se klerelaai gaan lê en slaap het…  

Die afskeid van daardie eiesoortige plekkie was baie swaar, maar ek het dit verruil vir ‘n huis in die voorstede, met bome en ‘n tuin en ‘n swembad. Daar het ek kinders grootgemaak, gekoek-en-tee, gasvry gewees, gelukkig gewoon en gewerk. Die uiteindelike verlies van daardie huis het my amper van my verstand af gehad.

Toe begin die rondswerf weer: duethuise en meenthuise en uiteindelik my kinders se huise. Die enigste gemene deler in al hierdie woonplekke is ek self. Ag, mag ek tog genadiglik in my Vaderhuis kan tuiskom, daardie huis met die “baie wonings”.