Vroulike lis is aangebore.

Joshua het ‘n lapkreatuur, so ‘n tuisgemaakte lang materiaalwors met twee voelhorings, wat kan oprol, ‘n slak wat tweedehands van Hongarye afstam. Hy is baie lief daarvoor, maar vandag het hy sy reg daarop prysgegee.

Gabby (7 jaar) en Joshi (5 jaar) het vandag albei ‘n nuwe speelding gekry: Gabby ‘n meganiese kat en Joshi ‘n blou kar met afstandbeheer. Gabby maak ‘n bed vir haar kat en gebruik die slak as ‘n matras/duvet. Ouma sien moeilikheid kom en waarsku haar dat dit Josh se gunstelingkreatuur is.

Gabby trippel die trap af en gaan vra of sy maar die slak as kombers kan gebruik. Sy voeg nogal ewe by dat dit nou vir ewig gaan wees! Josh is so besig met sy nuwe kar dat hy sonder slag of stoot “ja” sê.

Tevrede trippel Gabby die trap op: “Dit was die perfekte tyd om te vra,” sê sy.