Una het dit begin, en toe het Woordnoot met haar kers-verjaardagpartytjie vir ons elkeen ‘n pakkie in die hand gegee en ons saamgenooi na ‘n Learjet wat saggies op Rebusfontein kom land het en ons voor hierdie lieflike kasteel kom neersit het. In ons pakkies was daar vir elkeen ‘n sleutel …

Volg die verhaal HIER waar jy elkeen se skrywes sal vind:

Inlinkz skakel: https://fresh.inlinkz.com/party/6640e82546594147b4ef78a3de36e871

…………………………..

“So ‘n mooie sleutel kan nêrens anders as in ‘n toringdeur inpas nie,” dink Frannie terwyl sy die swaar sleutel van alle kante bekyk. “Gelukkig het hierdie kasteel sommer ‘n hele paar torings, want Positief het ook reeds ‘n toringkamer gedêps.” Sy stap die kasteel binne en kies koers teen die trap op.

Photo by Kristina Paukshtite on Pexels.com

In die portretgalery op die tussenverdieping wag die grasieuse blonde gasvrou prinses Irene haar in. “Jy is seker Frannie?” “Ja, maar hoe het jy geweet?” vra Frannie verras. “O, daardie sleutel is onmiskenbaar dié van die tweede toring en volgens ons gastelys is dit vir Tannie Frannie gereserveer. Kom ek gaan wys jou waar dit is, ons moet nog vier stelle trappe klim… Frannie se moed sak tot in haar skoene, maar sy gaan sowaar nie dat hierdie vrou dit agterkom nie! Teen die tyd dat hulle die laaste nou wenteltrap tot voor die swaar houtdeur uitgeklim het, voel sy heeltemal poegaai. Sy steier die kamer binne en snak na haar asem toe sy die vergesig deur die lang, smal venster sien: eers die groen gras, klipmuur en grag rondom die kasteel, dan die veld wat strek tot teenaan ‘n donker woud en ver op die agtergrond ‘n persblou bergreeks.

Dan draai sy om en sien die mooi ou hemelbed met die groen fluweelbehangsels, die ovaal spieël op ‘n donkerhoutstaander, die yslike klerekas met hangplek en baie laaie – groot en klein. Daar is ‘n gestoffeerde leunstoel vanwaar mens die uitsig kan bewonder, ‘n pragtige Persiese mat op die klipvloer en – ja, sowaar – ‘n regte egte kaggel. “Jy moet nou lekker rus, want vanaand se banket gaan tot laat aanhou. Jy kan kies uit die rokke en juwele in die kas. Claudia die hofdame sal jou kom help aantrek en jou na die banketsaal begelei” en prinses Irene glip by die deur uit.

“Hmm,” dink Frannie, “dis nou netjies – teen daardie tyd het die agt ure wat ek hier in die kamer moet bly, reeds verstryk.” Sy maak die klerekas se gekerfde deure oop en snak ‘n tweede keer na haar asem toe sy die skeppings van sy, satyn en kant daarbinne sien hang. Sy pas die een na die ander rok aan en besluit uiteindelik op ‘n mosgroen gewaad met ‘n wolk fyn valletjies om haar skouers. In een van die klein laaitjies is daar ‘n smaraghalssnoer en -armband wat die rok perfek afrond.

Eenkant agter ‘n geverfde syskerm ontdek sy ‘n bad met pootjies, vol warm water en geurige seepborrels. Na ‘n heerlike bad vou sy haarself in ‘n sagte japon toe en gaan lê op die bed…

Iemand skud haar liggies aan die skouer: “Toe-toe-toe, wakker word, die fees lê voor!” Frannie kyk op in ‘n paar onnutsige blou oë: “Jy is seker Claudia?” “Ja, aangename kennis! Kom ek help jou aantrek – oe, jy het goed gekies met hierdie groen rok.” Sover as wat Frannie aantrek, babbel Claudia; vertel van die kasteel met al sy mense en intriges. Teen die tyd dat hulle die wenteltrap na onder aandurf, weet Frannie alles van Alexi die Griekse geneser en haar liefie Theo, hoof van die koning se soldate. Sy weet van die aanval op die kasteel drie weke vantevore en die politieke onrus in die land. Sy weet dat die koning en koningin vanaand ‘n spesiale fees vir die Goue Vroue aanbied, omdat hulle hoop dat hierdie klompie vroue sal kan help om die onrus te laat bedaar.

Honderde kerse brand in kandelare en op die lang bankettafel. Op ‘n balkon sit musikante en speel onder leiding van Sylvia, die violis wat deur Mozart opgelei is. Claudia beduie vir Frannie dat sy by die ander Goue Vroue moet gaan sit (hulle is effens laat, soos wat maar gewoonlik met Frannie gebeur, en al die ander sit reeds). Toortsie wink haar nader, wys na die stoel wat vir haar oopgehou is. Die koning verwelkom almal en die fees verloop verder vriendelik en vreetsaam.

Toe niemand meer ‘n enkele happie kan eet nie en selfs die groot honde nie meer bedel nie (knuppeldik bederf deur die hondeliefhebbers onder die Goue Vroue), speel ‘n hofknaap ‘n trompetfanfare wat almal stilmaak. Die koning staan op en stel die Goue Vroue een vir een voor. Hy skets die gebeure van die afgelope tyd: die aanval op die kasteel, die Griekse geneser se hulp en sy eie versugting dat daar tog vrede in die land moet kom.  Hy nooi die Goue Vroue na ‘n dinkskrum wat die volgende dag gehou gaan word en spreek sy hoop uit dat hulle sal help om vrede in die land te bewerkstellig. Hy kondig ook aan dat die Griekse koning en sy geselskap die dag daarna gaan arriveer. Almal kyk na die bleek jongman Theo wat moeg langs sy geliefde Alexi in sy stoel terugleun, hulle weet mos dis vir hom wat die Grieke kom deurkyk…

Christa, as ek dit nie mis het nie, is dit nou jou beurt om verder te vertel.