Hy het so elf jaar gelede R20 gekos, wat my skoondogter by haar kêrel van destyds geleen het. Haar pa het gesê sy mag nie die kat huis toe bring nie, maar tieners – en veral katliefhebbende tieners – is dikwels kreatief ongehoorsaam. My dogter het hom laasjaar by haar ouerhuis gaan haal toe haar kindertjies oor Tortellini getreur het, hulle pragtige jong kat wat ‘n kort stryd teen leukemia verloor het.

Sy naam is Kwazimoto, maar dis ‘n lang naam, dus word hy meestal kortweg Kwats genoem. Hy het soveel sedige waardigheid dat hy toelaat dat ‘n klein seuntjie hom ronddra in die kenmerkende greep van klein kindertjies op katte: een armpie voor die agterpote en een armpie agter die voorpote. Soos wat Joshua hom dra, mis die ou se kop telkens rakelings mure en kosyne.

Selfs die treurige gevolge van ‘n kombinasie van katsnorbaarde, seuntjie en skêr doen nie afbreuk aan sy gravitas nie.

Ouma vermoed Kwazimoto het ‘n geheime betowerde lewe – hierdie foto bewys dit!