Aalsie skryf: “Met net mooi genoeg provokasie sal elke vrou dalk, ja dalk tóg! een vir een hulle bladsye terugskryf sodat die leser kan agterkom HOE en WAT en HOEKOM elkeen in haar eie reg geluk gevind het. https://fresh.inlinkz.com/p/567e0dbec3284abbacab09e8d73f276e

Laatnag/vroegoggend op Rebusfontein sluip Frannie met die wenteltrap af en lig die valdeur in die vloer van haar ivoorbaksteentoring. In die maanlig dra sy ‘n yslike ou boek trap-op na haar lessenaar daar voor die toringvenster, slaan dit oop en kyk na die gat in die middel, waar die Goue Vroue hulle pynlik eerlike stories een aand seremonieel met ‘n knipmes uit die hart van die boek uitgesny het.

Die opdrag het nou van Aalsie af gekom: “Dis tyd vir heelword! Skryf julle stories terug in daardie boek in, maak die gat heel – julle het immers almal reeds vrede bereik, of hoe?” Frannie trek haar skootrekenaar nader en begin tik…

Daardie dag in die VSA het ek gesweer ek praat nooit weer ‘n enkele woord met Silver nie. Mansmense is so stjoepit! Hy was veronderstel om agter my aan te hardloop en mooi te praat, nie om hom te wip en weg te ry, landuit te geepad, terug na SA toe nie! En toe loop verkoop hy sy Harley en foeter in die Overberg rond in ‘n lendelam Volksiebus soos wafferse hippie – sonder my, nogal!! Ek weet dit vir ‘n feit, want Toortsie het hom gesien. (Ai, dit sou so lekker gewees het om daar rond te ry, te kyk na die mooie panorama, oor die strand te stap en in die lieflike see te swem…)

“Hoe kón hy my so in die steek laat na ons wonderlike geskiedenis: die tango in Pretoria, die kuier op Cullinan, die konsert in die Rebusrus-amfiteater?” Die maanlig blink op ‘n groot traan wat teen Frannie se wang afbiggel. Vererg vee sy dit sommer so met die agterkant van haar hand af en tik verder:

“Dit het lank gevat, maar ek dink ek’s nou oukei, want ek het ophou soek. Vir my is die veilige hawe van ‘n volgehoue liefderike verhouding klaarblyklik nie beskore nie. Dis tog te jammer, ou girl, dat jy soveel tyd en inspanning vermors het in jou lewenslange, vergeefse soektog! Maar jy het nog die nóú, Rebusfontein met sy diere (Santie, ek gaan jou nog mooi na my hand leer!), en die heel belangrikste: die Goue Vroue se vriendskap. Dis genoeg – dis meer as genoeg.”

Soos wat Frannie getik het, het die woorde ook in die boek verskyn. Die gat is een bladsy vlakker, die bladsy waarop haar vredestorie verskyn. Frannie sit die boek onder haar arm en stap uit op die meent, wat in die vroegoggend se ligroos gloor uitgestrek lê. ‘n Oomblik lank verlustig sy haar in die Afrikalug, dan begin sy aanstryk om die boek aan Aalsie te oorhandig, wat volgende haar storie gaan skryf.