Uiteindelik is ek en die opgegaarde “pampiere” van ‘n leeftyd herenig…
Ek kom op Middelkind se st. 4-bloemlesing af. Dit begin besonder goed: BLOEMLESING in netjiese sjabloonletters, met ‘n foto van Eugéne Marais en ‘n kort stukkie oor sy digkuns. Op die volgende bladsy is ‘n tekening van ‘n wilde gesig met ‘n ronde oop mond ter illustrasie van “Die winterwind” deur E. van der Merwe. Daarna kom ‘n paar spreuke van Langenhoven aan die beurt en dan “Dis al” van Jan F.E. Cilliers. Daar is ‘n goeie skets van die blond, die blou, die veld en die lug, met ‘n grafsteen tussen die grasse. Ek lees die klein lettertjies van die grafskrif – ‘n erge anachronisme: “Rus in vrede 1816-1834”. Hoe het ek dit oor die hoof gesien? Het seker maar vinnig geloer en “mmm” gesê, indien ek ooit daarna gekyk het – my arme middelkind… Dan kom die laaste inskrywing: “Die Sfinks van Memfis” sonder erkenning aan die digter. Drie gedigte en ‘n paar spreuke vir ‘n hele jaar? Waar was die kind se ma? Besig met ‘n kleuter, ‘n huishouding en ‘n oggendwerk wat in middae en aande oorgespoel het, dís waar.
Hierdie kosbare seun wat maar sy eie weg deur die skooljare gevind het, het ook sy eie weg ná skool gebaan. In 2020 het hy ‘n Meestersgraad in Rekenaarwetenskap cum laude behaal. Ondanks sy ma, wat desnieteenstaande bars van die trots.
Dit is terwyl ek deur hope van papiere deursoek – meestal om weg te gooi – dat ek gedigte en tekeninge van ons kinders sien, veral van toe hulle baie jonk was. Gister het ek ‘n klein prentjie wat my jongste met balpunt pen in my notabook van my geteken het toe sy 17 jaar oud was. Ek het ‘n foto daarvan geneem en vir haar gestuur: “Not bad”, kom die antwoord van hierdie talentvolle meisie wat nou geen tyd het vir teken en skilderwerk nie. So ek kan verstaan hoe besig jy was op daardie stadium 🙂
Bittersoet, om so deur mens se verlede te werk, ne Anne. Mag jou dogter weer eendag tyd kry om haar talent te benut!
Dis ‘n lekker terugblaai, al voel dit of jy maar afwesig was in sy lewe, tog het hy geweet jy is daar as sy ma. Jy kan met reg trots wees dat hy in stilte tog voort gewoeker het met sy talente.
“…in stilte voortgewoeker” – dis die perfekte beskrywing van hom!
Dis soos my kind ook.
Ag Frannie….jy was so goeie voorbeeld vir hom.
Hoe lief van jou om so te sê!
Onthou: dit was so bedoel. Daar was ‘n doel waarom hy moes geleer het. Om selfstandig te wees. Jou opvoeding is wel sigbaar. Hy sou nie soveel bereik het as dit nie vir jou opvoeding en voorbeeld was nie. Geniet sy sukses en weet hy is beslis merkwaardig om só ‘n graad te behaal!
Dankie, San – hy besorg my baie vreugde.
Ja,dank Vader hulle oorleef nie net nie,hulle styg boonop kop en skouers uit! Jy mag met reg trots wees.Mens pluk nie cum laude van ‘n boom af nie…en dit sy Meestersgraad!
Danksy sy helder verstand het hy nooit juis op skool hard moes werk nie – nou verstom hy sy ma nogal dikwels!
Frannie, hierdie kind van jou is slim!!! Jy was sy ma, deur dik en dun, en sonder jou as sy steunpilaar kon hierdie graad nie gebeur het nie. Geluk, geluk.
Dankie, liewe Una.
Frannie, ek wil jou sommer ‘n druk kom gee! Veels geluk met jou seun se uitsonderlike prestasie.
Dankie, Toortsie, ek beskou myself as gedruk.
volg ons nie soms almal daai paadjie nie? Ek was ‘n enkelma, van 1 dogter, het vandag ‘n wonderlike verhouding met haar, en tog het daar ook dingetjies deur die mat gegelip. Want ek moes werk, huishouding waarneem, ma en pa wees.
Skuus, baie geluk met jou seun se prestasie.
Baie dankie Appeltjie.
Dit is waar van meeste van ons en dit sal waar wees van ons kinders ook. So is die lewe.
Baie baie geluk!
Baie dankie!
Vertel bietjie meer van Tannie Frannie. Die van waar’s ens.
Watter lekker vraag om te beantwoord! Grootgeword aan die Wesrand, op Tukkies geswot, Pretorianer. Lank reeds afgetree maar werk nog vryskut, aan en af. Anderkant die Bybelse afspertyd… ‘n Broer in Nieu-Seeland, ‘n seun met sy gesin in Ierland, ‘n dogter in die VSA.
Ek geniet altyd jou vertellings! Mooi kind wat jy grootgemaak het!
Baie dankie – ek dink hy het homself grootgemaak!
Baie baie geluk, wat ‘n prestasie en tannie kan met reg trots wees
Dankie liewe Positief.
‘n Vloed van herinneringe. ‘n Vloed van emosies. Dit stem ons tot stilte. Hartlik dank vir die steun vir “Paris”. Ek kon veel meer geskryf het. – Groetnis, willem
Ek geniet jou skrywes geweldig baie, dis ek wat moet dankie sê.
Weereens, hartlik dank vir die ondersteuning. Ja, Ste Reparate is ‘n groot ervaring. – Groetnis uit ‘n Ingeperkte land – willem
Mag die inperking gou opgehef word. Sterkte intussen!