Een van die vele voordele om ‘n afgetredene in die VSA te wees, is om laat te slaap en dan nog steeds die sonsopkoms te beleef – want op die oomblik verrys die son eers om halfagt. Vanoggend het die goue son ‘n breë ligstraal in die lug op laat skyn en toe ‘n dwarswolk laat verkleur om ‘n duidelike kruis teen die horison te verf. Ek het nie eens probeer om dit af te neem nie, hoop maar dat daardie beeld in my hart sal bly voortleef. So teen elfuur skyn die son steeds aan en af en ek gryp jas, mus en handskoene om te gaan stap (vandag gaan Barkley en sy nooi my nie kom haal nie, want sy werk lang ure deur die week). ‘n Entjie van die huis af (dis nou weer bewolk!) begin enkele sneeuvlokkies soos wit wolletjies deur die lug dryf, maar ek hou aan met stap en ook maar net so goed, want teen die tyd dat ek by die huis terugkom, skyn die winterson alweer. Ek dink mens moet in Pennsylvania grootword om die weer te verstaan – maar nouja, dit geld seker vir enige land.
‘n Paar dae voor Kersfees het die een of ander orkaan aan die ooskus vir ‘n wonderlike sneeuval hier gesorg. Ek kon uiteindelik die splinternuwe, stewige sneeustewels wat my liewe dogter vir my gekoop het, behoorlik benut – laas winter het ek hulle net een enkele dag gedra.

Ek en V het ‘n sneeuman gebou…

…wat sommer nog daardie selfde middag omgeval het. My skoondogter in Ierland stuur goeie raad: die basis was nie groot genoeg nie. Dus takel ek die volgende dag die basis en verstewig dit – as ek met sand op ‘n SA strand kan bou, kan ek mos met sneeu ook bou! Met groot inspanning hys ek die middelste bol sneeu op en pak dit vas. Dan kom die kop – en dié keer kry ta ‘n Suid-Afrikaanse serp, sodat hy vas en stewig sy man kan staan.

Ons word genooi om in Buurman Bob se agterplaas op die kleinkinders se sleë te gaan ry; ek skraap met V se aanmoediging al my moed bymekaar en skiet soos blits teen die steil afdraandetjie af – dis heerlik opwindend, maar een keer is genoeg, dankie. Die sleë lyk kompleet soos die opblaasringe waarmee ons in die somer in die swembad gespeel het, maar die ring het ‘n bodem en twee stewige handvatsels waaraan mens om lewe en dood vasklou terwyl jy al gillende oor die gladde sneeu skiet.

Die kersversierings is alles afgehaal – hier en daar lê nog ‘n opblaaspop of twee, pap en verlate op die wintergras. Die opblaasversierings werk met die huis se lugverkoeling: bedags wanneer die huismense nie daar is nie en die lugverkoeling af is, lê die versierings soos vrot velle, andersins blaas die lugverkoeling hulle op sodat hulle saam met die kersliggies pragtige taferele skep. Dis harde werk om kersliggies op te sit! V&P het nie ‘n lang genoeg leer gehad om die liggies enduit aan die geut vas te sit nie, toe skilder V ‘n Grinch, wat kamtig besig is om die liggies te steel. (Die Amerikaanse kinderboekskrywer Dr Seuss se “How the Grinch Stole Christmas” is ‘n alombekende storie/fliek hier.)

Op hierdie foto is die herfskrans nog teen die deur, maar dit is later vervang deur die kolossale kerskrans wat V self gemaak het.


Dis maar ‘n misrabele tyd vir mense wat nie so kinderlik opgewonde raak oor sneeu of gerugte van sneeu soos ek nie, maar die liewe Amerikaners laat hulle nie onderkry nie: Vandag was daar ‘n nuwe verrassing teen ‘n voordeur: ‘n bloedrooi hartvormige krans wat Valentynsdag voorspel.
Ooooo dit klink te lekker as mens dit so kan noem. Dis lekker om jou eie tyd te hê om op te staan en uit te gaan. Dan die sneeu lyk my ook n hele avontuur. ek het self nog nooit so baie werklike sneeu gesien of beleef nie. Al vergeet Valentyn is alweer aan die kom. Winkels gaan nou weer harte en spesiale goed in vensters hê.
Nee wat Frannie, met al die opwindende dinge wat jy doen moet jou blog naam verander. Tannie se toon. Vinnige Frannie dalk. Vir oomblik gewondervof die V waarna jy verwys ‘n Amerikaanse wewenaar is – dan kon dit dalk viriele Frannie gewees het 🤣🤣🤣
Ek dink ek volstaan met Veelsydige Frannie
Hmm, ek hou daarvan.
Hier is jy – en so spitsvondig soos altyd. Ek het na jou verlang!
Ek verlang ook na myself
Jy is waaghalsig en dit lyk heerlik, my hart wil net nie teruggaan na sneeu nie. Smelt julle s’n ooit?
Ja, dis nie koud genoeg vir die sneeu om te hou nie. Op Geloftedag het hier 24cm sneeu geval en dit was teen Kersdag reeds weg, behalwe vir die groot hope bymekaargeskraapte sneeu wat ontstaan het soos wat parkeerareas by die winkelsentrums skoongeskraap is.
Ek ken dit, lekker koud as mens daar verby stap. Ek het die sneeu so gelief, maar ek wil nie teruggaan nie. Hoe staan jou sake? Sal jy kan terugkeer?
Ja, ek mik in alle erns om DV so teen helfte Februarie terug te wees.
Valentynsdag. Ek moet gaan slaap, moet oor vier ure weer opstaan …
Dit lyk my die bloggers is omtrent almal nagwolwe!
My dogter kuier by ons hier b die see. 9nm is ons poegaai van speel, braai ens. Nagwolf word skielik early bird. Maar Frannie, as jy in SA kom, kan jy gerus in d winter vir my en Toorts kom kuier. Dit sneeu nie, dis super groen. Maar die son kom eers kwart voor 8 op!
Ek het nou lekker gelees oor die sneeu and geniet jou fotos. Jy maak die meeste van jou tyd so ver van ons af 🙂
Frannie, die sneeu hou jou behoorlik besig! Sneeustewels, verduidelik bietjie hoe lyk dit?
Nou weet ek ook hoe om ń sneeuman te “bou,” hy moet ń breë basis hê.
Bly om te sien jy geniet jou tyd so viriele Frannie. Het drie keer sneeu beleef… was groot pret. Ons sneeuman was ook nie so boepensrond nie… maar het vir groot pret gesorg.
What a spectacular Wreath your daughter made! And judging from the pics, yo9u had a lot of fun in the snow!
Ek smag nou na sneeu.. Hier gaap die kraaie vandag!
Ek gaan nou dadelik vir Skottie hierdie blog aanstuur. Sy is nou al deur baie sneeu maar kon nog nie een sneeuman bou nie!!! Sodra jy terug is moet ons kuier….
Sien baie daarna uit om jou weer te sien.
Ditto❤❤
Lyk na pret Frannie! Ek het nog nooit sneeu beleef nie!
Vir ‘n Suid-Afrikaner is dit net die wonderlikste ding!
Kan dit dink! 😀
Lekker om te lees. Dankie
Dit klink omtrent of tannie avonture beleef daar. Bravo vir alles wat tannie aanpak