Scrapy het hierdie onderwerp langer as twee weke gelede voorgestel en ek is dus hopeloos te laat, maar ai, vandag loop my mond oor van wat in my hart is: my sewejarige kleindogtertjie Gabriella daar ver (so vreeslik ver!) in Suid-Afrika.

Gisteroggend stuur hulle mamma ‘n foto van die tweetjies voor die versierde kersboom, tjokkenblokvol klatergoudstringe en ornamente. Joshi staan selfbewus reg vir die foto, met die mooiste glimlaggie; Gabby omhels omtrent die boompie.

Op die video wat ook op my WhatsApp aanland, lewer Gabby ‘n volle lesing vir haar ouma: sy druk Joshua sagkens uit die pad uit en vis ‘n kersliggie tussen die stringe versierings uit om vir ouma te wys. Sy vertel dat die kersboom se agterkant maar so-so is (sy gebruik haar eie woord, iets soos “whêêngg”), maar dis oukei want niemand kyk na die agterkant nie. Sy stap na die deur om vir ouma die “sonnerige dag” daarbuite te wys.

Ek gaan kyk na ‘n video wat haar pappa aan die begin van die SA somer vir my gestuur het, waar sy in ‘n nuwe opblaasswembadjie heen en weer “swem”. Die badjie is seker so 40 cm diep, dus raak sy kort-kort die bodem, maar sy demonstreer verskillende style en beduie uitasem waarmee sy nóú besig is.

Waar kom die kindjie aan haar professionele aanslag: die amptelike lektorstemmetjie en die besliste gebare om verskillende aspekte uit te wys? Ouma is so beïndruk − te meer nog toe haar mamma vanoggend vir my vertel sy wil eendag ‘n “sosialemedia-ster” wees. Nouja – dis nie die dokter waaroor ouma gedroom het nie, maar ten minste het Gabby ‘n toekomsvisie…   

Francois van Coke | As ek kon (Official) – YouTube