Scrapydo nooi ons om hieroor te skryf.

My eerste motortjie was ‘n splinternuwe rooi Volkswagenkewer, by name “Die Rooi Pampoen”.

Om ‘n bestuurslisensie te kry, was ‘n verskriklike opdraande stryd vir my. Dit was daardie agteruit-draai tussen die vier pale in wat my twee keer laat druip het, ek kon dit net nie regkry nie, nie eens na ses lesse by ‘n bestuurskool nie. Ten einde raad, het ek besluit om my eie motor te koop en met hom te oefen, onder die onwillige mentorskap van my arme boetie, sewe jaar jonger as ek, wat nie kon weier toe ousus vra nie.

Die plan was om ‘n bruin kewertjie aan te skaf, wat Tjoklits sou geheet het, maar toe was daar net die een rooi model wat dadelik beskikbaar was. Ek sou die paaiemente gemaklik kon bybring, maar die dag toe ek die karretjie wou koop, moes ek hoor dat ‘n kontantdeposito ook betaal moes word. My dierbare pa het in die bresse getree en betaal en siedaar – ek het my eie, eerste ryding gehad.

My mentor het gesê as mens ‘n Volkswageneienaar word, koop jy nie ‘n kar nie, jy sluit aan by ‘n geloof. ‘n Ander kollega wat met sagte oë my alleenloperavonture gevolg het, het gesê dat ek nou vlerke gekry het.

Ek het die kewer onder die woonstelblok in Sunnyside geparkeer en saans so skelm-skelm met hom rondgery – ek kon nou al goed bestuur, nog net nie goed genoeg om my lisensie te kry nie. My mammie het vier pale van opgerolde pienk karton in vier ovaalvormige asblikke staangemaak en my arme broer het in die snerpende winterkoue op verskeie parkeerareas vir my beduie hoe om daardie agteruit-draai te bemeester. Ewe geduldig het hy die pale maar weer en weer opgetel… Die dag toe ek die toets met my eie ryding slaag, het hy van pure uitgelatenheid reg rondom die kantoorgebou op die toetsterrein gehardloop – trots op sy sussie se prestasie, maar sekerlik ook innig dankbaar dat sy tyd nou weer sy eie was.

Die karretjie se naam het hy mettertyd verwerf, omdat hy so baie ná middernag in Pretoria se strate rondgery het. Hy was my vervoermiddel na menige laatnagmakietie en na elke dag se kantoorplig. Ek en my boetie is met hom Mosselbaai toe en hy het ook ‘n Kaapse toer moontlik gemaak. Laterjare het my man en sy broer die kar in ‘n allerpragtige rooi-en-wit duinebesie omgebou, waarmee ons as gesin baie pret gehad het.  

 ‘n Mens se eerste ryding vergeet jy nooit nie – dit was ‘n vriend, ‘n skuilplek, ‘n skepper van moontlikhede; trouens, dit was waarlik vlerke.

Photo by Ahmad Ramadan on Pexels.com