Het nogal gewonder wat sou oomblik nr. 13 hier in die VSA wees – dit het toe gister gebeur.

Midnight is my dogter se geliefde kat, ‘n binnenshuise kat sedert die anonieme brief wat gekla het omdat die kat, strydig met plaaslike regulasies, oor ander mense se erwe durf loop (???)

Midnight verlang na die buitelug. Soms laat ek haar uit, hou haar fyn dop en dra haar sommer gou weer terug huis toe. Sy’s eintlik baie soet en laat haar ewe gewillig optel, al kla sy dan so ‘n bietjie.

Gister verdwyn sy egter soos ‘n groot speld en ek begin soek, raak al hoe paniekeriger. V&P is op pad – hoe gaan ek vir hulle vertel hulle liewe kat is weg? Watter slegte, slegte kat-ouma is ek tog!

Gelukkig sien ek die kenmerkende swart silhoeëtjie op die leë huis langsaan se tuintrappies sit, loop inderhaas om na die hekkie wat my toegang sal gee. Toe die klein klits my sien kom, hardloop sy soos ‘n mal ding met die trappies af gras toe; bespring die een boomstam en hang halfmas, stert al swiepend; gee ‘n reuse-sprong grond toe en hardloop teen die ander boomstam op en af; gaan sit eindelik op die grens van die volgende erf en was ewe vroom haar pote.

Ek probeer kalmte uitstraal, maar dis onbegonne, want sê nou net daai kat vat die pad – ek sal haar nooit kan inhaal nie!

Gelukkig laat sy my nader kom en ek kry haar aan die stert beet, ag, ek weet dis baie eina, maar dis nou amper ‘n kwessie van lewe en dood! Sy skree verskriklik, kap verwoed na my, maar ek hys haar op en stryk aan huis toe terwyl ek haar luidkeels vertel watter stoute, stoute, @#$%&*! kat sy is. Ons twee se harte bons ewe vinnig.

Darem verstaan die bure wat my dalk sou kon hoor, nie Afrikaans nie.