Onlangs het ek hierdie foto in ʼn inskrywing gebruik en my blogmaats het laat weet dat hulle baie van die stoel (en die kat) hou.

Die kommentaar het my hart verbly, want dis ʼn stoel wat my meisiekind vir ʼn appel en ʼn ei op ʼn vendusie gekoop en self oorgetrek het. My mond hang oop vir haar vindingrykheid en behendigheid! Hierdie eetkamerstoele het sy oorgetrek om by haar pers eetkamermure te pas en toe sommer vir die pret ‘n blommotief op die rugleunings gebruik.

Deel van hulle eerste sitkamerstel was ʼn kolossale ronde leunstoel – ag, dis eintlik meer ʼn lêstoel, so groot is dit. Ek was bevoorreg om sy tweede metamorfose te beleef: V het twee katte wat dink daai stoel is hulle eie krappaal, dus moes sy dit reeds vantevore oortrek en dit het al weer gehawend begin lyk. By Ollie’s, die wonderlikste, yslike deurmekaarwinkel (“Good Stuff Cheap!”) het sy kussings gesien wat haar geïnspireer het om klaargemaakte gordyne te gaan soek wat by die kleurskema sou pas en wat sy kon gebruik om die stoel weer nuut oor te trek. (Sy sê dis goedkoper as om materiaal van rolle af te koop.) Sommer gou-gou het sy die regte skakerings tussen die horde gordynpakke raakgesien – haar aanvoeling vir kleur verstom my.
Dis ʼn hele proses om so ʼn stoel oor te trek – mens het goeie skroewedraaiers, sterk hande en baie vasberadenheid en stamina nodig om die kontrepsie eers uitmekaar uit te haal en daarna weer aanmekaar te sit.




Nou geniet die nooi en haar katte die “nuwe” stoel.

Toe kom sy te hore van ʼn laaikas uit die vroeë 1900’s wat verniet weggegee word – mens kan nogal sien hoekom.

Kyk hoe lyk hy nou.

Die oulikste detail vir my is die muurpapier wat sy aan die buitekant van die laaie geplak het en wat mens amper nooit gaan sien nie. Dis ʼn groot versoeking om nie die laaie almal so ʼn entjie uit te trek en so te laat staan nie!

Toe ek nou-die-dag kla omdat ek nie kan onthou of mens ‘n kraan kloksgewys of anti-kloksgewys toedraai nie, leer my behendige kind haar ma ‘n wonderlike nuttige rympie:
“Righty tighty; lefty loosey.”
Mens is nooit te oud om by jou kind te leer nie. Sy maak my ook nuut.
Wow sy is regtig kanphandig!! Mal oor daardie muurpapier binne die laai. Wat ‘n oulike idee. Dit lyk pragtig
Oe, dis mooi. Dis ‘n vreugde as mens se krose so kunstig en knap is. 💐💝
Frannie,my ouma het altyd gesê “as die oulap die pond begin leer moet jy wert jy raak oud.”
Juis daarom is ek dankbaar om te hoor jou kind maak jou “nuut”.
Pragtig
Sy is behoorlik behendig! Pragtig! Jy mag maar trots wees.
Ag dit was nou ‘n lekker lees en leer blog Frannie.
Frannie, is ons kinders nie absoluut ons voorreg om te mag hê nie. Daardie laaikas met sy skelm plakpapier, dis lieflik mooi.
Talentvolle meisiekind wat jy het. Daardie stoel lyk so knus… en ek lief die laaikas. Stem saam… trek die laaie.bietjie oop 😊
Ek staan in bewonderimg vir jou handige talenvolle kind
Daardie kas lyk absoluut wonderbaarlik. Die houtfanatikus in my wil eers huil oor die ou houtmeubelstuk wat geverf is, maar wow, daardie kante van die laaie is briljant.
Frannie se raak- kreatief-vat vlees van haar vlees.
Haar rympie laat my dink aan ʼn kragprop,/muurprop. Die bruin/brown het albei ‘n r in. Die bruin draad word r vir regs ingedraai.
Dit moes n belewenis gewees het om alles so te sien verander. Self jou eie verandering is ook n groot pluspunt op hierdie stadium.Die stoel is beslis n aanwins as mens saam met jou gediertes moet sit/lê. Sal graag so een wil hê vir my en mr T. Hy kantog so baie plek vat as hy die dag lekker lê. Jou dagter kan beslis n stoffeerder word in haar vrye tyd(wat sy sekerlik nie veel van het nie.)
Dis so kunstig gedoen!Ek is mal oor die kassie se laaie met die plakpapier daarop.Die bankie lyk soos iets waarop ek heerlik saam met my woewe kan lê!
Kyk hoe mooi is dit! Wat ‘n seën is dié raakvatkind van jou!
Mal hieroor🌻🌻🌻
Jôô, dis pragtig! Laat my sommer verlang na my sus…sy is so knap
Die kas is mooi, en die katte en die kind ook. Gelukkige Frannie.
Wat n praktiese handige dogter. Ek is seker syaard na jou. Darie laaikassie wow!
Hei. jy moet nou gaan slaap, dit word laat ❤
Ek het toe gaan slaap!