Photo by Leroy Huckett on Pexels.com

Toortsie het haar towersak vol wonderlike soeweniers van die VVVTT se reise gepak en dit hier op Rebusfontein kom uitgiet.

Onder andere was daar die rêrige êrige donkie, Santie, wat Toorts uit slawerny op Santorini gered het. Santie het so ‘n entjie galop, totdat sy in die weiveld by Blommetjie die koei en haar kalfie tereggekom het. Elke dag sien Frannie die driedierskap rondkuier daar in die veld, en dan wens sy sy kon op Santie se ou rug gaan ry. Haar mammie het as dogtertjie donkies gery, sy het baie staaltjies gehad oor hoe steeks en snaaks hulle kon wees. Sy en haar sussies moes die donkies saans gaan inhaal en dan het hulle probeer om terug te ry huis toe. Soms het dit gewerk en soms nie. Ag, Frannie weet nie eens hoe om ‘n donkie nader te roep nie!

Maar wag, Positief, haar buurvrou van Towerinstraat 8, is vandag hier en sy het die mooiste donkiefoto op haar blog. Sy ken ook bokke en bokke en donkies is mos maar ewe moeilik. Frannie draf gou oor langsaan, waar sy met ope arms ontvang word. Hulle klink ‘n glasie frangelico en Frannie vra raad: “Toortsie het gesê ek mag op haar donkie Santie van Santorini gaan ry – hoe roep ‘n mens ‘n donkie?” “O aarde, nee, ek weet nou nie eintlik nie – seker maar op die naam? Ek weet wel dat mens hulle met mieliepitte kan naderlok.” Positief gaan haal ‘n meelsakkie met mieliepitte in, watter behulpsame buurvrou is sy tog! Taktvol ook, want sy uiter nie ‘n enkele woord van bedenking oor Frannie se vaardigheid as donkieruiter nie, byt net op haar tande en skink nog ‘n knertsie.

‘n Rukkie later huppel Frannie straat-op na nr. 5, meelsakkie met mieliepitte in die hand, vrolik en reg vir die ding: vandag is die dag van die donkierit, van vryheid en grasievolle ruitery! Sy klop uitbundig aan Toortsie se rooi deur: “Joehoe, Toortsie! Waar’s daai oulike donkie van jou? Ek wil asseblief op haar gaan ry? Weet nie hoe om haar te roep nie, maar ek het mieliepitte!!”

Met haar gebruiklike gasvryheid gooi Toortsie haar deur wyd oop: “Kom binne, Frannie, kom binne! Ek het nou net bantingmuffins in die oond – wat van ‘n ou teetjie terwyl dit bak?” Frannie stowe egter nou voort op frangelico en misplaaste selfvertroue: “Ag hoe lekker, maar ek is nou so opgewonde, ek kan nie langer wag nie, waar is Santie?” Toortsie gaan staan op die stoep en roep: “Saaaantieeee! Waa’s my ou eseltjie? Waa’s ounooi se liefieding? Saaaaaantieeeee!” “O, so dis hoe mens dit doen,” dink Frannie terwyl sy huiwerig ‘n handvol mieliepitte uithou na die donkie wat stadig naderslof. Toortsie gaan haal ‘n toukontrepsie wat sy om Santie se kop regskik. Daar’s g’n saal nie, donkies word  immers bloots gery, volgens die staaltjies van Frannie se ma…

Van die stoep af swaai Frannie ‘n been oor die donkierug en vat die leisels stewig vas. Dis nogal hoog hier van bo af!  Santie staan mooi stil…Santie staan té stil! Frannie klik met haar tong en ruk die leisels dat dit op die donkienek tik. Sy wip-wip so effens om die donkie aan te moedig om te beweeg. Die towerinne wat Positief bymekaargemaak het om na die petalje te kom kyk, roep aanmoediging en raad uit.    

Toe haak Frannie af en skop vir Santie met mening in die lieste. Ummm – dit is ‘n fout, ‘n gróót fout. Daardie donkie trek weg teen ‘n duiselingwekkende spoed en hol vervaard oor Rebusfontein se wye vlaktes terwyl sy sulke uitasem hie-ho-tjies laat hoor. Die ruiter los die touleisels en slaan haar arms om die galoppende donkie se nek. Sy gil in die donkieoor: “Stop, stô-ô-ô-p, Santie, stôp! Halt! Hokaai, sie-jy!” maar dis tevergeefs. Al wat Frannie kan doen, is om met arms en knieë vas te klou, terwyl haar lewe in volkleur voor haar geestesoog verbyflits – nou nie juis ‘n aangename ervaring nie… Santie gooi wye donkiedraaie en gaan staan uiteindelik langs Blommetjie die koei, so mak soos ‘n lammetjie. (Ja-ja, ek weet dis gemengde dierevergelykings…) Die langoor balk lank en uitdagend – waar sou sy al daai asem vandaan kry?

Frannie val soos ‘n vrot vel in die stof, waar sy lank bly lê voordat sy na haar toringhuisie begin hinkepink…