Photo by Jose Vega on Pexels.com

Christa rig ‘n bloguitdaging: skryf ‘n brief aan jouself (op enige ouderdom) en haar uitnodiging maak ‘n hoogs nodige konfrontasie moontlik.

Hallo …? (Hoe moet ek jou noem? Jy het so baie vervormings van jou naam beleef en geniet deur jou lange lewe. Dalk maar net op jou blognaam…)

Hallo Frannie,

Toe jou kuier by jou dogter in die VSA nuut en vars was, het hierdie lied reeds om jou kom vou.

Dit was ‘n wonderlike, vrolike Kerstyd – ontwrigting en verlange was nog ver in die toekoms.

Nou is jy op ‘n dun plek, ‘n drumpelplek, ‘n tussenplek vol van verlies en vergeefsheid…

Jy en jou skoondogter in SA WhatsApp en Joshi kom staan digby die kamera – so bekend en so vreeslik ver weg. Hy dra sy plastiekfietsie aan om vir jou te wys: “Hy’s baie blouerig!” Asof Ouma nie daardie blou fietsie maar al te goed ken nie. Ou seuntjie – toe Ouma daar weg is, kon hy nog nie eens die fietsie optel soos wat hy nou kan nie! Gabby kom speel met haar mamma se hare terwyl julle gesels, glimlag vir jou met haar perfekte twee nuwe voortandjies. Ag ou liefie, Ouma het dan nou die hele haasbekkiestadium misgeloop!

Ses jaar lank het hierdie kleinkindertjies jou so besig gehou dat jy verby die leemtes in jou eie lewe kon kyk. Die eerste twee jaar na jou aftrede was Gabby bedags in jou sorg – die rede waarom jy soggens opgestaan het. Daarna het haar boetie gekom en was daar nog vier jaar lank sin aan jou bestaan.

Nou is daardie tyd verby en jy is vasgevang in ‘n tyd van oorgang en onsekerheid. Die oue is verby, die nuwe het nog nie gekom nie en jy het geen benul van hoe die nuwe sou kon lyk nie…  

Hoe kan ek jou moed inpraat? Ons deel immers hierdie eienaardige spasie. Tog gaan ek probeer. Skrywers oor “liminaliteit” (groot woord, nè? dit kom van die Latyn “limen” wat “drumpel” beteken) sê mens moet die spasie tussen dit wat verby is en dit wat nog nie gekom het nie, aangryp as ‘n geleentheid om te groei. Richard Rohr gee raad: slaan bekommernis hok; leer om met onpeilbaarheid saam te leef; wag en vertrou; moenie die wolk van onsekerheid probeer ontvlug nie.

Gaan jy dit regkry? Nie uit eie krag nie, maar deur oorgawe…

O kom, o kom, Immanuel.

Mooi loop

Frannie