Donut het nog drie slapies hier by ons voordat sy eie mense van vakansie af terugkom. Hy is die mooiste goue labrador, vaartbelyn en energiek sonder om freneties te wees. Sy slanke lyf is waarskynlik hoekom ek hom aanvanklik “Biscuit” wou noem, want ‘n ronde “donut” is hy beslis nie.

Donut help my kind om vir Honey te sosialiseer, hy is die eerste hond met wie sy goed oor die weg kom.

Verder help hy my ook om ‘n splinternuwe vaardigheid aan te kweek – dié van hondeoppasser. Wie het nou ooit kon dink ek sal hier in die VSA my CV kom uitbrei? Die eerste dag toe hy hier by my kinders se huis kom intrek het, het hy my al bekoor: ‘n ware jintelman, kompleet met strikdassie en al!

Die kinders is terug werk toe en Donut het my geselskap gehou, so sjarmant dat Ouma hom sommer toegelaat het om saans in haar kamer te slaap. Die nag toe hy ‘n nagmerrie gehad het, het hy sulke klein tjankies gegee – andersins blaf hy glad nie, nie eens as die swart kat Midnight reg voor hom kom sit om hom te vertel dat hierdie huis eintlik haar en die gemmerkat Diesel se terrein is nie. Arme Donut! Midnight het sy snoet nou-die-dag van voor af ‘n vinnige linker- en regterhou toegedien en Diesel het die aanval afgerond met ‘n genadelose kaphou op die boud, wat die liewe stil hond ‘n enkele tjankie laat tjank het. Hmmm, ek is besig om my onvoorwaardelike liefde vir katte te hersien…  Wanneer Donut met sy mense herenig is, lê daar ‘n lang proses van brugbou voor met hierdie twee moedswillige kleinkatte!