Hester van Dis Ekke skryf:

Kameel het gister gevra dat ek ‘n InLinkz-skakel moet opstel en Towerin-bloggers moet vra om te beskryf hoe hulle oorspronklik met die ander Towerinne kennis gemaak het, hoe hulle betrokke geraak het by hierdie groep en wat hierdie groep vir hulle beteken. En hier is die skakel waar almal se bydraes aangeheg moet word: https://fresh.inlinkz.com/p/a0c98db4df894be6921458c62165d987

Iemand het my op LitNet se adreslys gesit en daar het ek die blogs begin lees; toe in 2011 self daar begin blog (sjoe, dis ‘n lang tyd!). Op ‘n stadium het ‘n klompie bloggers besluit om oor te skakel na WordPress, iets waaroor ek nog nooit spyt was nie.

Die uwe is nie goed met spertye nie – trouens, ek is hopeloos verby. Ek hou van uitstel, maar haat die gevolglike paniek van op die laaste nippertjie iets te probeer lewer. Dit lyk ook nie asof ek ooit hierdie swakheid te bowe gaan kom nie – nie eens hier in Blogland nie. My destydse verskoning om nié by die avonture rondom Toweropstal betrokke te raak nie, was “ek doen nie spertye nie”. Dit het my egter nie verhinder om lustig te lees en heerlik kommentaar te lewer nie! En toe skryf Perdebytjie my sommer in die storie in en word ek weens daardie manewales genoodsaak om asiel by die Towerinne in Oostenryk te vra. Daar is ek gulhartig verwelkom en by die Toweringeheime ingelyf. Watter ongelooflike voorreg!

Vir my is die wonderlikste kenmerk van die Towerinne hulle fyn begrip; ‘n halwe woord lewer altyd die gewenste reaksie. Hulle noem my “Frannie”, want hulle weet ek is eintlik glad nie okay met “Tannie” nie.

Dan is daar hulle ryk verbeeldings, kreatiwiteit en onnutsigheid. Toe ek iewers op die giggelgroen bus aan heimwee oor my allenigheid toegee, het VirgoC aan die werk gespring en vir my ‘n virtuele maat geskep: Silver, die man wat op ‘n Harley ry en weet hoe om te tango. (Hy trek nogal sterk op Sam Elliott.) Kameel het ons in ‘n restourant laat flirt; WoordNoot het vir Silver ‘n wonderlike vroeëre storie geskep.  

Vuurvliegie dig “grasie en kalmte” aan my toe – menige dag het daardie onverdiende kompliment my al van onwaardige gedrag weerhou! Hester vang vis as sy nie mag stap nie en hou die strande van KwaZulu-Natal helder in my gedagtes. Scrapy lewer kommentaar en dis asof ons saam sit en tee drink uit fynporseleinbekertjies. Christa vertel van koue en hitte in die noordelike halfrond en haar ervarings verryk my eie. Una is altyd daar, eerlik en vol begrip, soos ‘n beskermengel op die blogs. Bondeltjies bak jêmtertjies en verstom my met haar medemenslikheid. Toortsie woel en werskaf en weet hoe om tiramisu, witblits en ‘n onskuldige voetjie voor te sit. Seegogga teken die sjarmantste prentjies – hoe beny ek haar daardie ongelooflike talent! Wanneer Positief kom inloer, voel ek altyd bly, want sy is baie besig en dis spesiaal dat sy vir ons tydjies afknyp. Sonell vertel van haar gesin en herinner my aan daardie verre, vae tyd toe ‘n dag se ure te min was en die uitdagings te veel. Ons tjeer so graag vir haar! Trommeltjies is stil – hopelik sal sy en ek weer kans kry om suksesvol aan boeresport of waterpolo deel te neem.  

In hierdie eienaardige tyd, waar ons almal maar half ontredderd voel, is Rebusfontein, sy inwoners en aanhangers (soos Tina en Baron Room) vir my ‘n toevlug en ‘n vreugde. 

https://frandr.wordpress.com/2019/05/06/woordsnoer-4-towerinstraat-5-rebusfontein-tannie-frannie/