Hier volg die vierde hoofstuk van die bloguitdaging: Die storie oor die Towerinne en Coronamouna. Soos gewoonlik by ‘n vervolgverhaal, moet almal wat wil deelneem ‘n inskrywingsvorm voltooi – kry die vorm hier: https://forms.gle/spN3EwV1kt5wGW9F9

Bloggers sal skryf in die volgorde waarin hulle inskryf – kyk na HIERDIE vorm (spreadsheet) wat outomaties op datum gehou word om te sien wanneer dit jou beurt is om te skryf.

NB! Hierdie uitnodiging is oop vir alle bloggers op alle platforms – ons soek altyd “nuwe bloed” om deel te neem aan ons uitdagings. As jy in Afrikaans skryf, sluit gerus aan by die Towerinne en neem deel aan hulle avonture. As jy nog nooit deelgeneem het aan een van ons uitdagings nie, besoek die volgende skakels Lê-Jou-Eier: Reëls en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? Laasgenoemde blogpos bevat ook al die onderwerpe en skakels na vorige uitdagings.

Onthou ook die addisionele reëls vir vervolgverhale – (1) wag jou skryfbeurt af, (2) wanneer ‘n nuwe blog geplaas word en jy is volgende aan die beurt – gee net eers ‘n dag of wat kans sodat almal die blog kan lees en kommentaar lewer voordat jy jou bydrae plaas en (3) plaas jou bydrae binne die volgende drie tot vyf dae sodat ons nie die vloei van die verhaal belemmer nie.

Ons InLinkz skakel vir hierdie uitdaging is:

https://fresh.inlinkz.com/p/c0342166738644c9875c54b4f5669017

 

Dis vroegaand op Rebusfontein. Die skaduwees raak al langer en swarter. Dis vannag donkermaan…

Daar’s ‘n noodvergadering in Frannie se ivoorbaksteentoring. Toortsie en Seegogga sit elkeen bibberend van skok onder ‘n kniekombersie met ‘n knertsie witblits in die hand. Frannie is besig om die een na die ander van Bondeljies se jêmtertjies te verorber – sy sluk dit af met haar eie glasie witblits. Hester mompel iets van ‘n “spinheks” en Positief maak beswaar dat dit nie ‘n PC-term is nie. Volgens haar kan die Rebusfonteiners nie sommer aanneem dat die indringer wat daar by die houthuisie in die bos ingetrek het, verantwoordelik is vir Una se verdwyning nie. Eenkant in die hoek (o nee, wag, die toring het nie hoeke nie…) Eenkant op ‘n hoop lê die fakkels wat Sonell gebring het en daar staan ook die kas Doom wat Woordnoot gekoop het. Die plan is dat die Towerinne binnekort elkeen met ‘n brandende fakkel en ‘n blik Doom die donkerte gaan invaar om Una te probeer red – maar dis al plan tot dusver en Scrapy het gevra dat die klomp darem net asseblief ‘n bietjie verder moet dink as wat hulle neuse lank is.

Frannie is kort duskant histerie – sy giggel en hik en gril by die gedagte dat Una ‘n “lickdown” ondergaan het. Toortsie vra of spinnekoppe slymerige tonge het en Seegogga betreur die feit dat Perdebytjie nog nie hier is om ons met haar kennis van die natuur (dus ook van spinnekoppe) by te staan nie – hoeveel oge het die goeters nou weer?

Toe verskyn Lelik, vergesel van Trompie, Una se Danie en Ringo die towerhond. Daar klou ‘n paar blaartjies kattekruid aan Lelik se kop en haar oë is vreemd groen, maar bedwelmd oftenôt, die Towerinne is maar te dankbaar dat daar ‘n verkenner is wat kom verslag doen.

Lelik in die kattekruid

Lelik prnjiaau en Ringo tolk:

Nooi, hier is ‘n nuwe kat op Rebusfontein, so ‘n oulike klein swartetjie, baie vriendelik en uitgesproke. Haar naam is Corrie. Toe sy my die eerste keer sien, toe vra sy nou maar wat het my getref dat ek so bitterlik lelik is met my stomp ore. Voor ek my kon verêre oor so ‘n vermetele familiariteit, vertel sy my toe van haar nooi Corona, wat “ook baie, baie lelik is – ‘n haakneus en ‘n moesie op die ken, maar swaarkry het haar hart vol deernis gemaak vir ander lelike goed”. Haar pappa het haar Corona genoem omdat sy vir hom die kroon op sy hele lewe was. Sy het spinnekoppe vir maatjies en sy het in die houthuisie doer eenkant innie bos kom woon. Dit het gebeur omlat sy die Towerinne in al hulle mooi aandrokke sien lyndans het in mnr Barnum se sirkus en gedink het dalk sal sulke vrolike mense vir haar ‘n toevlugsplekkie hê.

Daar in die sirkus het die moeilikheid met haar spinnekopmaatjies begin. Nooi Corona dink dis die vier yslike olifante met die maroelaprobleem en die leeus wat so netjies deur Towerin Hester getem is, wat veroorsaak het dat die spinnekoppe drome van oorheersing begin droom het. Hulle het begin om sulke snaakse ronde balletjies met ‘n nimbus van klein suiertjies te spin, wat dan in die lug weggesweef het. Darie goed het sommer giftig gelyk! Toe nooi Corona die spinnekoppe waarsku om op te hou met hierdie spinnery, het hulle rondgeskarrel en onderlangs gemor, haar “ou Coronamouna” genoem, maar hulle het darem geluister. Teen daardie tyd het daar egter reeds miljuisende van die goed oor die hele aarde rondgesweef.

Toe was daar ‘n ander vrou wat haar gehelp het om by Rebusfontein uit te kom: hierdie vrou – haar naam is Broodina – het al nooi Corona se spinnekoppe in haar blou Uno gelaai en hiernatoe gebring. Mar…maar toe het dinge vreeslik skeefgeloop.

Nooi, sê Lelik, jy weet ons katte het die kuns bemeester om nie eintlik rêrig aan hartseer toe te gee nie. Ons gaan lê liewers in die sonnetjie en spin, of rol in die grond, maar sowat van mistroostig en misrabel soos wat daai arme swart katjie toe raak, het ek nog nout nie in my ganske dag des lewens gesien nie! Toe vat ek haar maar na my beddinkie kattekruid doer by die stroom en ons het daar gekuier totdat ons ‘n onaardse gil hier onder in Rebusfontein gehoor het. Corrie het gesê dis haar nooi se stem en dadelik na hulle huisie toe teruggehardloop en ek en Trompie en Ringo en Danie het na jou kom soek. Danie sê sy nooi Una is ontvoer! Wat gaan ons maak, nooi? Hê nooi, wat?

Daar heers doodse stilte in die toring – niemand weet hoe om vir Lelik te antwoord nie. Toe word die toring se buitedeur oopgegooi en daar staan Perdebytjie, uitgedos in Hester se leeutemmeruitrusting, sweep en net in die hand. “Dames, sit neer julle Doom, maar bring die fakkels sodat ek kan sien wat ek doen. Tienkie, Frankie en Neelsie het die spoor gevolg en hulle sê Una is in een van die grotte daar naby die afgebrande herehuis toegespin in ‘n kokon. As ons nou net die spinnekoppe kan verwyder, kan ons haar baie maklik daar uitkry. Toortsie, het jy en Seegogga dalk skerp skêre waarmee ons haar sal kan lossny?”

Die Towerinne kyk met groot oë na mekaar – hoe gaan hulle dit regkry om die spinnekoppe te oorwin sonder die kannetjies Doom?

Perdebytjie sug. “Ag okay, maak julle net vir my lig, ek weet hoe om hulle aan hulle pootjies te vang. Dan vat ons elkeen enetjie en gaan sit hulle ver weg in die bosse, waar hulle lekker kan leef en niemand sal pla nie.” Perdebytjie beduie mooi hoe om die spinnekoppe se pote met een hand vas te vat, maar die res van die geselskap lyk maar huiwerig. Toe staan hulle een vir een op, neem ‘n fakkel en steek dit aan die brand, en stap traag maar dapper die donkerte in…

In die houthuisie dwaal Corrie miaauend rond – waar is haar liewe nooi?

Scrapy – dis nou jou beurt!