My dogter se seuntjies sou in die week wat grendeltyd hier in Pennsylvania begin het, haarkapper toe gaan, wat toe natuurlik weens die inperking nie meer moontlik was nie. Gevolglik moes sy reeds self hulle hare sny en vandag is dit weer sulke tyd. Genadiglik is sy handvaardig – as dit ek was wat moes sny, was daar chaos en muitery oor die eindproduk!

Deur die woonstel se kombuisvenster het ek ‘n goeie uitsig op die prosedure, wat ‘n ent weg buitenshuis plaasvind. Die seuntjie sit mooi stil en my kind werskaf soos ‘n professionele haarkapper. ‘n Rukkie later sien ek die seuntjie met sy netjiese haredos is besig om die knipsels hare op te vee (die kinders doen elke dag ewe vrolik hulle “chores” – hulle is behendige skoonmakers). So stuur ek vir haar ‘n WhatsApp:

Waffer soort haarsalon is dit waar die kliënt self sy afgeknipte hare moet opvee??

Haar onweerlegbare antwoord:

Een waar die kliënt nie betaal nie.