My liewe skoondogter, wat haar hart en haar huis vir my oopgemaak het, WhatsApp vanoggend – hoe het sy geweet ek verlang?

Joshi, my vierjarige kleinseun, gesels land en sand, maar Ouma se ore werk nie meer so goed nie, sy hoor nie mooi wat die mannetjie haar probeer vertel nie. Dis koud daar in Suid-Afrika – hy het sy dik baadjie agterstevoor aangetrek en die rooi kappie hang soos ‘n yslike tong voor sy borskassie. Sesjarige Gabby sit haar mamma se rug met intense konsentrasie en vryf, dis amper asof sy skugter is vir my.

Ek dink aan al die grootouers wat vandag na hulle kleinkinders verlang. Daar was ‘n tekenprentjie van ‘n oupa wat hand-aan-hand met sy kleinkind wegstap – op elkeen se silhoeët is ‘n uurglas geteken: die kindjie s’n is amper vol; die ouman s’n is amper leeg. Watter treffende manier om die goue ure tussen grootouer en kleinkindjie voor te stel!

Daar is net een ding wat nou gaan help: ‘n kuier op Rebusfontein. Ouma pak Nutter Butters (Amerikaanse winkelkoekies met grondboontjiebotter gegeur) en Hershey Kisses (karamelgeur) in, die kleintjies moet vir Lelik die kat saambring en – ag ja, oukei, Muis die hond kan ook maar saamkom. (Wie het ooit kon dink dat ek na daardie ou hond sou verlang?)

Huisie

Ons gaan sit op die swaaibank op my toringhuisie se stoep, Ouma in die middel. Joshi moet vir my die liedjie oor Noag en sy ark sing – wanneer hy so met sy sagte handjies beduie hoe die reën val en die waters opstoot, lyk dit amper asof hy met tai chi besig is. Gabby wys my haar haasbekkie – sy wissel die tandjies nou sommer twee-twee, die Tandemuis kan beswaarlik voorbly. Ons bespreek die eksistensiële vraag: Wie kom haal die tandjies, die Tandemuis of die Tandefeetjie? Dalk albei? Sy hoop dis die Tandefeetjie, want sy laat sulke pragtige blink spoortjies op die vensterbank. Ouma verduidelik weer van Afrikaans en Engels…en sy onthou die bekoorlike Tandemuisgesinnetjie wat lank gelede onder ‘n trap in Port Elizabeth se Kindermuseum uitgestal was. (Watter wonderlike dag was dit tog, toe sy heelpad haar eie twee kindertjies die dood voor die oë gesweer hat as hulle dit sou waag om aan iets te raak: “Julle hou julle handjies agter julle rûe, gehoor?!” Toe hulle oor die museum se drumpel trap, nooi die vriendelike opsigter: “Kom, kom, kom streel die opgestopte otter, voel hoe glad is sy pels…” en hy verduidelik vir my: “Ons moedig die kinders aan om te vat en te ondersoek, dis die heel beste manier om te leer!” Ouma dink nou nog haar geloofwaardigheid as ma wat als weet, het daardie dag die eerste knou gekry…)

Nou gaan ek met my kleintjies spog, so al met Towerinstraat langs. (Lelik en Muis het pad gevat – hulle kuier iewers heerlik saam met al Rebusfontein se diere.) Ons gaan groet heel eerste vir Hester. Sy skink vir ons heerlike koel putwater met suurlemoenblare en kruie. Terwyl ek en Hester gesels oor grendeltyd, vat die liewe Lorenzo vir Gabby en Joshi na die vlot toe wat agter Hester se huisie in die rivier geanker lê. Ons kom heelwat later eers daar weg.

By Una se blou-en-pienk huisie ontdek ons twee van haar kleinkinders; naamgenoot Gabby, wat ook vanjaar in graad een is, en klein Xander, by wie Joshi sommer dadelik aanklank vind. Hulle vertel Scrapy se kleindogtertjie Bea is ook hier en gevolglik sit ons almal af na die sigeunerkaravaan by Towerinstraat 3. Daar drink ek en Scrapy tee uit fynporseleinbekertjies en Una kry ‘n glas Nieu-Seelandse wyn. Die kleinkinders speel te lekker met Trompie onder die karavaan se maag tussen die groot wiele en dis ‘n taamlike tranedal toe ons almal weer ons eie koers moet kry…

Voor die wit deur van nr. 4, onder die uitbundige rankroos, staan ‘n pragtige blonde vrou met ‘n swart kat met wit pootjies en ‘n rooi strik om die nek in haar arms. Sy beduie sy gaan so bietjie straat-op stap om vir Lorenzo te gaan hallo sê; ons is welkom om na binne te gaan waar Kameel ons inwag. Gabby en Joshi kry elkeen ‘n tafeltennisraket en ‘n emmertjie balle en gaan speel op die systoep – hier is ‘n ouma gekonfyt daarin om kleintjies besig te hou!

Die musiek wat uit Toortsie se huisie met die rooi voordeur weerklink, lok my en Kameel nader. “Kom,” sê Kameel, “die kleintjies gaan nog lank agter daardie pieng-pongballe aanhardloop…” Nadat ons ‘n ruk lank heerlik klavier en kitaar geluister het, gaan haal ek die twee kleintjies, want Toortsie gaan vir ons almal banting-souttert en tiramisu vir middagete voorsit.

Knuppeldik geëet, stap ons drie aan na Perdebytjie se huis. In die voortuin speel twee pragtige blou-oogknapies – die oudste een gryp een van die welwitschiagoggas en probeer Gabby daarmee skrikmaak. Hoe misgis hy hom met my meisiekindjie, wat lief is vir die yslike groenblou torre wat by haar huis op die dadels van die palmbome rondkruip! Joshi is ook hoog in sy skik: “Kyk sy klein voetjies!” roep hy geesdriftig uit. Ek gril my besimpeld, maar gelukkig kom red Perdebytjie die arme gogga. Ons gaan sit op die agterstoep en kyk rustig uit oor die wye veld, terwyl die kinders heerlik in die veld saam met ‘Bytjie se drie Schnauzers Tienkie, Frankie en Neelsie baljaar.

Van langsaan wink Positief ons nader. Haar huisie is ‘n ware feetjieland, Gabby snak na haar asem van verwondering toe ons deur die lieflike tuin loop. Sy ontdek die mosaïek-juwelekis en pas die een na die ander juweelstuk aan, kyk droomverlore na haarself in die spieël, meegevoer deur haar drome van skoonheid en glorie… Daarbuite, diep in die groenigheid tussen flikkerende liggies, ontdek ‘n sprakelose Joshi twee rêrige-êrige donkies en ‘n boklammertjie!

Dit gaan maar swaar om die tweetjies daar weggelok te kry – gelukkig lyk VirgoC se Airstreamhuis so interessant dat hulle uiteindelik geredelik saamstap. Gabby gaan snoesel op die heerlike bank met die sagte kussings en Floki die allerpragtige Noorweegse kat kom spring op haar skoot. Hoe bly is ek dat die kindjie lief is vir katte! Dis ‘n lewenslange waarborg van troos en vreugde. Die kreepie-krawlie in die houerswembad fassineer Joshi, hy sit lank stil daarna en kyk, spring dan op en hardloop opgewonde na die ander kant waarheen dit nou beweeg om dit daar te gaan inwag, babbel aanmekaar oor hoe die ding dan nou wêêêrk… Hoe soet val die klank van daardie stemmetjie met die eiesoortige stembuigings en die lank uitgerekte eindlettergrepe op Ouma se oor…

Dis nou al vieruur in die middag, ons dag is te kort. ‘n Spoortjie skulpies lei ons voete na Seegogga se huisie, vanwaar ‘n mondfluitjiedeuntjie ons al nader lok. Die kleintjies verstom hulle aan al die skilderye, maar hulle hou die meeste van die “vyfminuut-tekeninge” wat Seegogga so skynbaar moeiteloos kan optower.  Gabby sê sy verlang nou na haar kunsstel met al die baie kleure kryte en verf… Dis net met die belofte van Bondeltjies se jêmtertjies wat ek hulle so ver kry om vir Seegogga tata te sê.

Ons stap met die pragtige bont paadjie langs, deur die huis tot by die sonkamer met die glasdak, waar die yslike bord jêmtertjies saam met tee en koeldrank staan en wag. Pasella gaan sit op Joshi se skouertjie en knibbel saggies aan sy oor. Gabby sien die wonderlike modderplas net buite die deur en vra of hulle daarin mag gaan speel. “Maar natuurlik!” sê ek en Bondels gelyk, want dit gee ons langer tyd om te gesels en in te haal. As die kleintjies klaar gespeel het, gryp Bondeltjies die tuinslang en spuit hulle silwerskoon – dis so ‘n heerlike gelag dat Trommeltjies oor die heining loer en ek haar sommer kan vra of ons nou ‘n draai by haar kan kom maak.

Die windklokke maak mooi musiek in die laatmiddagwindjie. Karolus die staffie verwelkom ons uitbundig. Trommeltjies se Kanadese kleindogtertjie kuier ook op die oomblik by haar hier op Rebusfontein – sy laat ewe gasvry vir Gabby en Joshi voor die kaggelvuur gaan sit om goed droog te bak na die natspuitsessie by nr. 11. Rooiwyn en kerslig – so ‘n heerlike verposing…

Van langsaan, agter die groen deur, kom die meesleurende klanke van Woordnoot wat Green Door op haar klawerbord speel. Toe ons aan die deur klop, kry ons die hartlikste verwelkoming – en ‘n pakkie Niknaks word in elkeen se hand gestop. Hierdie ouma raak nou al hoe moeër – sy is nie meer kleinkinderfiks soos laasjaar nie! Hier by Woordnoot kom sy tot ruste, na liggaam en na siel. Gabby kyk met groot, bewonderende ogies na Woordnoot se groen toonnaels, dis vir haar vreeslik mooi. Sy fluister met haar warm asempie in my oor: “Ek wil ook eendag sulke mooi tone hê.” Joshi druk sag en versigtig op die klawers – ons gasvrou laat hom liefderik begaan en ek vertel haar hoedat musiek nog altyd vir hom wonderlik was… Dis net nog ‘n ouma wat met soveel entoesiasme na laaang stories oor ander se kleinkinders sal luister.

Dis nou al sterk skemer en ons stap aan na Vuurvliegie se huis vir ‘n stoepkuier. Toe sy sien wie staan voor haar deur, lag sy haar heerlike, hartlike lag en nooi ons binne. Ringo die towerhond ontferm hom oor Lelik en Muis wat sopas vir die eerste keer vandag weer by ons aangesluit het. Vuurvliegie lei ons na die stoep, waar heerlike boerewors besig is om te braai. Ons eet dat ons skuinslê…sê oor en oor dankie en stap dan aan na Sonell se huisie langsaan sodat die twee kleintjies vir oulaas nog met hulle portuur kan speel voordat hulle na grendeltyd moet terugkeer.

Sonell se huisie is betowerd, want sy het hier ingetrek toe haar kinders reeds tieners was. Omdat sy egter weet dat Gabby en Joshi vir oulaas met maatjies wil speel, sorg sy dat haar kinders op agt- en sesjarige ouderdom met glase milo by die gesellige kombuistoonbank sit. Daar staan nog twee vol glase milo vir my twee kleintjies en terwyl die vier saam kuier (Joshi is heeltemal gefassineer deur die takbokkop), sit ek en Sonell en gesels oor die VSA en al die klein en groot verskille met Suid-Afrika. Joshi raak aan die slaap op die sagte turkoois leunstoel en ek besef dat ons nou vinnig by ons laaste bestemming vir die dag moet uitkom.

By nr. 17 brand die ligte helder en die voordeur staan wawyd oop. Daar is kamilletee vir my en Qazakstanse lekkergoed vir die kleinkinders. Die miniatuur-Schnauzers BB, Shilo en Sobek neem hulle gasheerpligte baie ernstig op en speel die spreekwoordelike hond uit ‘n bos uit – tot Muis en Lelik speel heerlik saam. ‘n Reuse-gestalte stryk op die grasperk neer: dis Harpie, wat my twee liefies en die hond moet terugvlieg na hulle ouerhuis toe. Lelik gaan sommer langer hier op Rebusfontein bly kuier, gelukkig sal sy vannag vir my in my dakkamertjie geselskap hou. Ek en Gabby huil, maar gelukkig is dit so ‘n gedoente om aldrie passasiers hulle sit te laat kry en te wys hoe om aan Harpie se sterk vere vas te hou, dat die nagwind sommer gou ons trane droogwaai sonder dat daar nuwes loop. Ek en Sonell staan en waai tot ons die spikkel in die lug nie meer kan sien nie…

Naskrif: Hierdie vertelling is getik op die splinternuwe rekenaar wat my kinders gister vir my present gegee het. Die enigste manier waarop ek ooit vir hulle sal kan dankie sê, is om te bly speel met my nuwe speelding…