Hester het ons genooi om te vertel van ons grendeltyd-ervarings. Ek is hopeloos te laat hiermee, maar ek plak tog die logo, uit dankbaarheid en waardering vir hierdie uitdagings.

le-jou-eier1-e1512926357627

Net omdat mens self ‘n tipe Engels praat, is dit nie te sê dat jy die burgers van die VSA reg verstaan nie. So was die frase shelter in place vir my nogal gerusstellend, amper poëties, beter as lockdown of stay at home. Dis nou totdat Google my gehelp het om uit te vind dat dit ‘n frase is wat gedurende die koue oorlog ontstaan het as deel van noodbestuursmaatreëls in geval van ‘n kernramp. G’n wonder dat die goewerneur van New York State beklemtoon het dat hy nié ‘n Shelter-in-place-bevel uitreik nie, aangesien, seg hy, daardie frase paniek kan veroorsaak vanweë “its association with active shooting situations or nuclear wars”.

Daarom gaan ek my ook weerhou van kommentaar op die first world problems wat mense hier rond so kan ontstel… 😉

Daar is nog ongeveer 25% van die kinders op kampus, die res is huis toe en almal gaan aanlyn skool.

Party student homes het weer liggies opgesit.

Een dag het die laerskoolonderwysers met ‘n motorkavalkade oor die kampus gery, van huis tot huis, om met plakkate vir die kinders te vertel: “We miss you guys!”

Op Palmsondag was daar ‘n uitnodiging om enige groen takkie in die voortuin neer te sit. Hier is nie palmbome nie – die groen takkie wat ek raakgesien het, was kunsklimop, en tog het dit die boodskap so goed tuisgebring soos enige palmtak sou kon doen.

Ons mag nog steeds gaan stap, dis ‘n groot genade, veral nou in die lieflike lentetyd. Die koue wind waai bloeiselblaartjies om mens se voete rond; die gras is ongelooflik groen; al wat ‘n boom is, bot en bloei asof hulle betaal word.

Dis die eerste keer in my lewe dat my inherente luigeid tot my voordeel strek! Dit hinder my net mooi niks dat ek nie kan gaan rondrits nie. Ek was langer as ‘n maand gelede laas op enige ander plek as hier waar ek is en ek is innig tevrede.

Dankietog vir WhatsApp – mens is nie afgesny van jou familie en vriende nie.

Dankietog vir YouTube – het vandag na Phantom of the Opera gekyk en opnuut die towerkrag van die uitvoerende kunste besef. Mag ons troebadoers en akteurs tog heel anderkant hierdie eienaardige tyd uitkom!

Dankietog vir boeke! Boekwurms kan mos nooit verveeld raak nie. Het sopas Terry Pratchett se vier boeke oor Tiffany Aching herlees. Watter wonderlike skrywer is hy tog, wat met soveel insig beskryf wat in die gemoed van ‘n 113-jarige aangaan:

‘Indeed,’ she said, and sighed. ‘Yes. The trouble with being this old, you know, is that being young is so far away from me now that it seems sometimes that it happened to someone else. A long life is not what it’s cracked up to be, that is a fact.’

My liewe skoonseun kom soos ‘n warrelwind by die craft room in, waar ek twaalfuur die middag heerlik sit en speel op die blogs. “I’ve got you FOOD!” verklaar hy triomfantlik en pak af uit ‘n yslike sak: ‘n croissant met gefrummelde velle kalkoenrol en kaas, ‘n pakkie skyfies en ‘n wonderlike Amerikaanse koekie: groot en plat, effens bros en tog sag om te kou, met karamelstukkies oral in die sjokoladedeeg ingebak. Vroeër die oggend het hy vir my in die mikrogolf ‘n kaneelrol met loperige versiersuiker gebêre, dit was brêkfis.

Dalk kan ek my in hierdie inperkingstyd besig hou met nate uitlaat…