Die Towerinne het op WhatsApp beland. Soos gebruiklik, baljaar ons. Dis so lekker om hulle stemme te hoor en al die wonderlike kreatiewe projekte te sien. Omdat ek tans in ‘n tydsone ses uur later as die meeste van hulle leef, het ek soggens ‘n hele vrag boodskappe om (met vreugde) deur te werk.

Die lief en leed van my maats maak dat ek sukkel om by te hou – as ek nog sit en giggel oor ‘n kwinkslag, is daar iemand wat van groot hartseer vertel. Ek kom agter dat blogland vir my ‘n beter, rustiger medium is. Maar teen dié tyd is ek verslaaf aan my oggendkuier, dus hinkepink ek maar agterna, vat net so hier en daar grond…

Toe kondig Kameel ‘n konsert aan:

Dames, julle word uitgenooi om deel te hê aan ons konsert. ‘n Sangitem…’n voorlesing…iets komies…’n dansitem. Enigste reël is jy moet die item persoonlik lewer. Vuurvliegie sal die vertoning afskop met ‘n voorlesing. Geniet!!!

Soos mens van Vuurvliegie te wagte kan wees, is haar voorlesing relevant, aktueel en besielend.

Hester vertel ‘n Namakwalandse storie – “en so” is ons almal nog steeds aan die wonder oor wat op daardie pampiertjie geskryf was.

Positief sing in die mooiste altstem ‘n heerlike, oorspronklike liedjie oor Rebusfontein.

Sonell en haar kindertjies sing “Dis julle wat die wind..” en vermurwe elke oumahart op die groep.

Teen die agtergrond van haar pragtige nuwe turkooismuur speel Seegogga vir ons in die mooiste syncopation-styl klavier en daarna mondfluitjie – “O die liewe Marthatjie”.

Toortsie voer my terug na die dae toe ek na my mammie en haar susters se vreugdevolle klavierspel kon sit en luister.

Perdebytjie speel ‘n klassieke stuk wat ek nie kan herken nie, maar ai – dis mooi, die note drup presies, een na die ander…

Woordnoot grawe haar lank-vergete klawerbord uit en speel “Green Door”. Sy laat my sommer na Rebusfontein verlang, waar mens by haar huisie met die groen deur kan gaan kuier…

Kenmerkend Una, ons mens-mensmaat, omvat haar video met die pienk scooter almal van ons: die een na die ander vingergesiggie verskyn en gee elke blogger se veronderstelde reaksie op die moontlikhede van ‘n rit op daai pienk gevaarte.

My mond hang oop van verstomming oor al die talent. Hoe verder die konsert vorder, hoe meer bekommerd raak ek. Al my verflenterde voordragboeke lê in Suid-Afrika, wat gaan ek aanvang? Toe Woordnoot sê sy het nou so effens stage fright, voel ek darem so ‘n bietjie beter – dis nie net ek wie se knieë bewe nie.

Ek gaan soek op die Internet en kry net die regte versie: “Rooikappie” deur Philip de Vos. Maar toe kom vertel Bondels die storie van Rooikappie op video, rooi manteltjie en al, só goed en so snaaks dat almal haar toejuig en daardie onderwerp beslis afgehandel is.

Op die ou einde, omdat dit herfs is in my verre vaderland, lees ek maar ‘n gediggie daaroor. Hoe kon ek my ooit bekommer het? Ek weet mos hierdie gehoor is die mees simpatieke, ondersteunende gehoor wat mens ooit sal kry. Dankie, liewe Towerinne, vir julle bemoedigende kommentaar!

Christa en haar Schnauzertjie lewer die dansitem wat nog kortgekom het, te oulik om te sien.

Kameel dra “Maria” van Eliabeth Eybers voor – ‘n gedig wat vir my van groot betekenis is en ons almal weer herinner: dis Paasfees!

Dan sluit sy skertsend af met:

Napoleon se vaarwelgroet aan sy moeder: En Napoleon sê in ‘n bulderende stem: ‘Tata Mamma’.

Nou lyk dit my asof Seegogga en haar ringnekpapegaaitjie Bekkie dalk nog moreoggend ‘n encore gaan lewer, ek hoop dit werk.

Kameel, wie se breinkind hierdie hele heerlikheid was, som dit goed op:

Hierdie konsert het mens laat lag, sommer diep laat dink, mens jouself laat verwonder.