le-jou-eier1-e1512926357627

Ons InLinkz skakel vir hierdie uitdaging is https://fresh.inlinkz.com/p/e3dfca20e90c4ae09d7312695a15b7f3

Bloggers wat nog nie voorheen deelgeneem het aan ons Lê-Jou-Eier bloguitdagings nie: Om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakels Lê-Jou-Eier: Reëls en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? Laasgenoemde blogpos bevat ook al die onderwerpe en skakels na vorige uitdagings.

Haarkleur is ‘n ernstige saak. My liewe skoondogter het eendag besluit om haar hare pienk te kleur. Met haar mooi jong gesiggie en donker oë het sy vir hierdie skoonma allerpragtigs gelyk, maar haar baas (‘n modieuse jong vrou nogal!) het nie so gedink nie. Nadat sy ‘n bitsige WhatsApp gekry het waarin sy beskuldig is dat sy “onprofessioneel” opgetree het, het my kind besluit om te bedank… Sy het baie seergekry met daardie episode, maar eind goed, alles goed – deesdae het sy ‘n halfdagpos en kan haar kindertjies smiddags haar geselskap geniet.

Toe ek begin hare kleur het vanweë ‘n paar grys hare, iewers in my dertigs, was daar nog nie gel-haarkleursel wat nie gedrup het nie. My hare was gewone bruin en ek het besluit om maar so na moontlik te hou aan wat Moeder Natuur my gegee het. Ek het my behelp met ‘n ou handdoekstofkamerjas en ‘n stortkepsie, albei vol blertse kleurstof van vorige sessies. Dan het ek my in die badkamer toegesluit totdat die proses voltooi was, want om daardie verskynsel te sien, sou al my huismense die skrik op die lyf gejaag het.

Toe ek so vyf jaar gelede besluit het om “grys te gaan”, is ek na my haarkapster toe vir hulp. Ek het gedink sy gaan vir my grys strepies insit, sodat die gekleurde hare met verdrag kon uitgroei en ek so (hopelik) ongemerk grys kon word. Omdat ek maar al die vele jare self gekleur het, het ek niks geweet van salonprosedures nie. Daarom was daar geen alarms toe my kop naderhand tjokkenblok vol silwer papiertjies is nie. Dit was eers toe daardie foelie uitgehaal word, dat ek besef het dat sy my hele bos hare gebleik het! Daar is ek toe met een skriklike slag grys…

My hartsvriend K is ‘n man van fyn smaak en ietwat puntenerig. Ons kuier gemiddeld so tweemaal per jaar op sy stoep en net na die bleikprosedure moes ek by hom gaan kuier, want ek was op pad Nieu-Seeland toe en wou hom darem voor die tyd koebaai sê. Daardie dag het ek suiwer onthutsing op K se gesig gesien. Toe ek uit my karretjie uitklim, het hy my begroet: “En van wanneer af is jy ‘n blonde??”