wandelpaadjies 2

Die skool hier het toegemaak en die kinders kry elke dag aanlyn-opdragte wat hulle in die student home op hulle I-Pads doen. Die onderwysers is aanlyn beskikbaar om vrae te beantwoord en die huisouers hou toesig. Daar is twee sessies per dag: van 9:00 tot 12:00 en van 13:00 tot 15:00. Dit beteken dat V&P nou nie meer unscheduled time het soos wat hulle gehad het toe die kinders in die skool was nie en dat hulle van opstaantyd dwarsdeur tot slaaptyd op diens is. Hulle skofte gaan nou verander van 12 dae aan/3 dae af na 3 dae aan/3 dae af.

Die kinders wat kon, is huis toe. Vyf van V&P se agt seuntjies is nog by die student home. Gedurende die week verskaf die sentrale kombuis middag- en aandete en die eerste keer toe die meal bus middagete gebring het, was daar sommer ‘n hele klomp ander voorrade ook, benewens dit wat die huisouers self bestel het. Die mense van daardie kombuis werk verskriklik hard, maar die meal bus-bestuurders is die vrolikheid en vriendelikheid vanself. Die paaie is vreemd stil. Byeenkomste van meer as 10 mense word as ongewens beskou. Hier en daar sit mense weer van hulle kersfeesliggies op sodat iemand dalk saans daardeur verbly kan word.

Dis lieflike lenteweer – nie meer murgkoud nie, die son skyn meestal en die bome is vol botsels, party vol fyn, onopvallende blommetjies – hier en daar sien mens al daardie tere lentegroen. Die seuntjies kies elkeen iets om te doen terwyl ons gaan stap: twee ry fiets, een het ‘n skopfiets (ondertussen het hy ook na ‘n tweewielfiets gevorder), een ry op ‘n ripstick − ‘n gevorderde tipe skaatsplank wat so heen en weer waggel − en een bons ‘n basketbal sover soos wat hy loop.

wandelpaadjies 1

Die kampus is yslik, so groot soos twee of drie plase, en orals is daar geteerde kronkelpaadjies waar twee mense en ‘n hond maklik langs mekaar kan loop. Die uwe vorm die agterhoede en stap vir al wat sy werd is om by te bly. Ons stap langs poele water en oor houtbruggies, op ‘n lang atletiekbaan met ‘n rubberoppervlak wat heerlik sag op die voete is, verby bosse en bosse heldergeel affodille. In plasse reënwater langs die pad word die kaal boomtakke bokant ons weerspieël, bo-oor ou herfsblare wat onder in die water lê. Elke dan en wan kom ons nog ‘n optoggie kinders teë, op fietse, rolskaatse, of gewoon met dapper en stapper. Die fietsryers moet almal helms dra en die klein dogtertjies met hulle pienk en pers en turkoois lyk dierbaar oulik in hulle monderings. Almal groet oor en weer, die house parents neem die kans waar om bietjie op ‘n “veilige” afstand te kuier, die kinders speel hulle kaduks in die buitelug, sodat hulle vanaand rustig kan slaap.

My ou seun in Suid-Afrika het oor die Kerstyd vir my ‘n video gestuur van Gabby, waar sy soos ‘n hamstertjie al in die rondte, al in die rondte op haar nuwe pienk en blou tweewielfiets oor die plaveisel agter hoë mure ry. Toe ouma weg is uit Suid-Afrika, kon sy nog nie eens so trap dat die pedale ‘n tweede keer in die rondte draai voor sy haar balans verloor nie. Nou ry sy soos ‘n Tour de France-deelnemer! Ag, hoe wens ek tog dat sy ook op hierdie pragtige paadjies kon kom ry…